Thursday, January 27, 2011

Vrou van Beeld sterf ná aanval

Dries Liebenberg
Durban. – ’n Gewilde verspreidingskontrakteur van Beeld is eergister in ’n hospitaal in die stad dood ses weke nadat rowers op haar vragmotor geskiet en haar in die bors getref het.

Die toestand van mev. Kotie Visser (60) van Port Shepstone het ’n week nadat sy geskiet is in die waakeenheid van die St. Augustine-hospitaal versleg.

’n Koeël het haar bors onder haar armholte getref, ’n long beskadig en in een van haar rugwerwels vasgeslaan toe rowers in die ry op 14 Desember in die vroeë oggendure op die N2-hoofweg naby Ilfracombe op haar geskiet het.

Sy was op pad om koerante by die Pavilion-winkelsentrum in Durban te gaan oplaai. ’n Gewonde Visser het haar seun, Schalk, op haar selfoon gebel terwyl die rowers die vragmotor deurgesoek het.

Visser jr., wat ook help om Beeld te versprei en ’n ent agter sy ma se vragmotor gery het, was binne tien minute op die toneel. Die rowers het net mev. Visser se handsak gevat.

Haar man, Schalk sr. (56), is in 2006 ook deur rowers doodgeskiet toe sy Beeld-afleweringsvoertuig langs die N2 onklaar geraak het.

Volgens Visser jr. het sy ma eergister omstreeks 05:00 hart- en bloeddrukprobleme ontwikkel en is sy om 13:10 oorlede.

Vandat mev. Visser op die ventilator geplaas is, kon sy net haar lippe beweeg om met haar familie te probeer praat. Dié het probeer lippe lees en dan vir haar vrae gevra waarop sy haar oë kon knip om ja of nee te sê.

Volgens sy suster, mev. Ilze Viljoen van Roodepoort, was mev. Visser iemand wat altyd gelag, met mense gesels en nooit stilgesit het nie.

Die familie het die groot getalle Beeld-intekenare en vriende wat gebel of SMS’e gestuur het, bedank vir hul ondersteuning.

’n Roudiens word Saterdag om 15:00 in die NG kerk in Margate gehou en op 5 Februarie om 12:00 ook in die NG kerk Sesmylspruit in Von Willigh- laan, Centurion.

No comments:

Post a Comment