Thursday, January 27, 2011

Rooftog traumaties, angswekkend, sê boer

Tom de Wet



VIRGINIA. – ’n Bekende boer se ervaring om beroof te word deur polisiebeamptes en mense wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het en te hoor hulle beplan om hom te vermoor, was uiters angswekkend en traumaties.

Só het mnr. Carel Marais, boer en sakeman van Wesselsbron, gister in die hooggeregshof hier getuig.

“My gevoel is moeilik om te beskryf. Ek moes traumaberading kry. Ek probeer positief bly, maar dit is nie elke dag maklik nie. Om te moet weet my en my gesin se lewe word moontlik nou nog bedreig, is moeilik. Ek het my vertroue in die polisie verloor.”

Ná die betrokke voorval word vier polisiemanne, ’n oud-polisieman en broer van ’n Vrystaatse LUR, en nog vyf mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, nou aangekla.

Marais het getuig dat hy daarná sekuriteitstelsels van duisende rande moes aanbring. Hy dra ook nou daagliks ’n vuurwapen. Om deel te word van die program vir getuiebeskerming sou weens sy sakebelange en boerdery prakties onmoontlik wees.

Marais het op ’n vraag van adv. Antoinette Ferreira, aanklaer, gesê hy is reeds besig met ’n siviele eis teen die polisiediens.

Sy prokureur, mnr. Tom Bothma, het aan Volksblad bevestig dat ’n skadevergoedingseis van meer as R2,8 miljoen teen die polisiediens reeds ingedien is.



- Volksblad

No comments:

Post a Comment