Sunday, January 16, 2011

Vier boewe skiet man by vulstasie

Fanie van Rooyen
Een van vier gewapende rowers het eergister ’n 35-jarige bestuurder van ’n Engen-vulstasie in Soshanguve, noordwes van Pretoria, koelbloedig doodgeskiet en toe saam met sy makkers sonder enige buit gevlug.

Die rowers het die bestuurder glo geskiet omdat hy te lank gevat het om die sleutels van ’n kontantkluis op die perseel te vind.

Kapt. Dumisani Ndlazi, polisiewoordvoerder, het gesê die vier het omstreeks 08:30 in ’n silwer BMW-motor sonder nommerplate by die vulstasie stilgehou.

“Al vier was met vuurwapens gewapen en het uit die motor gespring, by die vulstasie se kantore ingebars en die bestuurder beveel om die sleutels van die kluis aan hulle te oorhandig,” het Ndlazi gesê.

“Hy het blykbaar te lank gevat om die sleutels te vind en toe skiet een van die rowers hom in die maag.”

Ndlazi het gesê omdat daar baie mense by die vulstasie was, het die rowers sonder enige buit weggejaag.

Die bestuurder is met ’n ambulans na die Dr. George Mukhari-hospitaal geneem, maar hy het later aan sy skietwond beswyk.

“Die polisie ondersoek ’n saak van moord en gewapende roof. Ons hoop om die rowers gou vas te trek.”

No comments:

Post a Comment