Wednesday, February 22, 2012

Rowers skiet man buite winkel dood

Ügen Vos
’n Rower wat soos ’n veiligheidswag aangetrek was en daarom vrye toegang tot Builders Ware­house gegee is, het mnr. Frik Marks (30) van Krugersdorp gister vroegoggend in ’n mislukte roofpoging doodgeskiet.

Marks was reeds vroeg by die onderneming in Rivonia, Sandton, om inkopies te doen toe die groep vlugtende rowers vermoedelik sy bakkie wou kaap om mee weg te kom.

Hulle het op hom afgestorm en hom doodgeskiet.

Die rowers het ook losgebrand op nog ’n man wat op die toneel aangekom het, maar dié is ongedeerd.

Kapt. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, het gesê een van die rowers, wat soos ’n veiligheidswag aangetrek was, het vroegoggend by die onderneming aangekom.

Builders Warehouse se werknemers was omstreeks 06:40 besig om die winkel oop te sluit en het dié man laat binnekom omdat hulle nie onraad vermoed het nie.

Die “veiligheidswag” het ’n vuurwapen op hulle gerig en hulle daarmee aangehou, waarna nog drie rowers die winkel binnegestorm het.

Die rowers het ’n diensbestuurder met ’n vuurwapen gedreig en hom beveel om ’n kluis in die administrasiekantoor oop te sluit, het Massmart, Builders Warehouse se eienaar, gister in ’n verklaring gesê.

Die diensbestuurder het as gevolg van streng veiligheidsmaatreëls nie toegang tot die kode vir die kluis gehad nie, het Massmart gesê.

Die rowers het die diensbestuurder aangerand en onder meer met die geweerkolf op die kop geslaan in ’n poging om die kode te kry, maar uiteindelik tou opgegooi en gevlug. Die man is nie ernstig beseer nie.

Die honde-eenheid en ’n polisiehelikopter is ontbied en twee verdagtes is kort daarna aangekeer.

Een van die verdagtes het volgens Cloete drie selfone wat in die rooftog gebuit is by hom gehad.

Albei aangekeerdes sal later die week in die landdroshof in Alexandra verskyn en die polisie is volgens Cloete op hul makkers se hakke.

Senior bestuurders het gister op die toneel van die rooftog met Builders Warehouse-werknemers vergader en Massmart het gesê traumaberading is gereël om werknemers en lede van die publiek wat aan die rooftog blootgestel is by te staan.

No comments:

Post a Comment