Wednesday, February 15, 2012

Misdaadprerioriteite

Die regering het pas aangekondig dat dit veediefstal in veral die Oos-Kaap en die Oos-Vrystaat saam met renosterstropery tot prioriteitsmisdaad verklaar.

Dit volg kort na Vrystaat Landbou aangekondig het dat dit voortgaan met stappe om die regering vir versuim om sy burgers te beskerm, hof toe te sleep. Dié kwessie het op die ys beland toe die regering vroeër buite die hof geskik het.

In sy hoofartikel reageer Volksblad positief hierop, maar noem dan ook die probleem dat die regering se optrede dikwels die indruk skep dat die land se boere as die vyand, eerder as bondgenoot beskou word. Volksblad noem dit nie, maar pres. Jacob Zuma se aankondiging in sy staatsrede dat die regering die onbekookte groenskrif oor grondhervorming as beleid aanvaar, is ‘n duidelike simptoom hiervan.

Dit volg na die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, by ‘n landboukongres geen doekies omgedraai het nie – die regering hét die boere vyandig hanteer, maar dat die gesindheid verander het. Nou nie so dat ‘n mens dit elke dag agterkom nie.

TLU-SA slaan die spyker op die kop wanneer hy uitwys dat daar ook ander prioriteite, en spesifiek plaasmoorde, is wat die regering as prioriteitsmisdaad behoort te hanteer. Mnr. Louis Meintjies, president van TLU SA stel dit so: “Die regering is ons ’n paar reguit antwoorde verskuldig. Ons wil eerstens weet of plaasmoorde en plaasaanvalle nog wel as prioriteitsmisdade beskou word. Ons is ook geregtig om te weet watter maatreëls ingestel word om boere te beskerm, en om moordenaars aan te keer en te vervolg.

“Ons kan al die gesteelde vee terugvind, en ons kan alle renosters beskerm, maar as die boere wat oor hulle werk vermoor word, is daardie aksies absoluut futiel. Die regering moet sy prioriteite vir ’n slag reg kry, want ons kan nie voortgaan om boere teen hierdie tempo te verloor nie. Sover ons weet is sewe landbouers sedert die begin van die jaar vermoor. Dinge kan nie so aangaan nie.”

Meintjies se woorde staan ongelukkig nie in ‘n lugleegte nie, en volg kort na die 71-jarige mev. Ingrid Niebuhr op haar plaas in die Wakkerstroom-omgewing vermoor is. Sy beklee nou die 1 555ste plek op die TLU SA se lys van vermoorde landbouers op plase waarvan die organisasie kennis dra.

As die land se amptelike moordkoers met Interpol se syfers vir plaasmoorde vergelyk word, is die moordkoers van die landbouers sowat tien keer hoër as die land se hemelhoë gemiddeld. Daar behoort geen, maar geen onsekerheid te wees dat dit ‘n prioriteitsmisdaad is, en behoort te wees nie.

As dit die regering se erns blyk te wees, behoort dit darem nie ‘n maand of langer te neem om ‘n afspraakdatum met die nasionale polisiekommissaris te kry na dit in Januarie aangevra is, en steeds nog geen antwoord ontvang is nie.

As almal in die owerheidswese nie die boodskap kry en daarby ingebind word dat die landbouers nie die landsvyand is nie, dan beteken uitsprake soos dié van die minister dat sy bloot lippediens gelewer het.

Short URL: http://www.koerant.co.za/?p=7331

No comments:

Post a Comment