Wednesday, February 15, 2012

Rowers rand 71-jarige erg aan

2012-01-17 09:01


Alta Snyman
Rustenburg – ’n Bejaarde asbestoselyer is in ’n bedenklike toestand in ’n hospitaal in dié stad nadat vyf mans hom gister omstreeks 02:00 in sy plaashuis oorval het.

Koos Bisschoff (71) woon sedert sy vrou se dood drie jaar gelede alleen op die plaas Mooihoek deel 10 by Avondale, tussen Rustenburg en Koster.

Vyf mans met ’n geweer het Victoria Jabard (41), sy versorger, in haar kamer oorval en gedwing om die plaashuis se agterdeur oop te sluit.

In die huis het die aanvallers Bisschoff met die geweer oor die kop geslaan.

Een van sy seuns, Henning, boer sowat 10 km daarvandaan.

Hy vermoed sy pa se Duitse herdershond, Tammie, wat in die huis geslaap het, is met iets bedwelm, want volgens getuies het sy ’n ruk geblaf en toe stil geraak.

Die hond was gister lusteloos en het vir niemand geblaf nie. Hy het haar veearts toe geneem, maar geen kneusplekke is sigbaar nie.

Bisschoff jr. het gesê die rowers het sy pa en Jabard met plastiekkabels vasgebind.

Volgens kapt. Adéle Myburg, polisiewoordvoerder, het hulle ook ’n plastieksak oor Jabard se kop getrek, waarna sy in ’n kamer toegemaak is.

Die rowers het die huis erg omgekrap en die kluissleutel gekry, maar kon nie die versteekte kluis opspoor nie.

Hulle het met ’n rewolwer, twee selfone, kontant en Bisschoff se metaalgrys Mazda Drifter-dubbelkajuitbakkie met die registrasienommer FLG 864 NW gevlug.

Jabard kon haar loswikkel en het Koos Koen, wat die huis langs Bisschoff s’n by hom huur, gaan wakker maak. Hy het hulp ontbied.

Bisschoff woon al langer as 22 jaar op die plaas en het ’n plaaswinkeltjie. Nege kiste bier en vyf kartonne sigarette, winkelvoorraad wat hy in die huis gebêre het, is ook gevat.

Hy het harsingskudding en het bloeding op die brein opgedoen.

Volgens Bisschoff jr. het die dokters gesê weens die as­bes­tose kan sy pa nie narkose kry en vir die bloeding geopereer word nie

No comments:

Post a Comment