Wednesday, February 15, 2012

Moermeters’ in rooi

Sarel van der Walt



PRETORIA. – Daar was verlede jaar minder plaasmoorde as in 2010, maar as die eerste maand van die nuwe jaar ’n aanduiding is van wat voorlê, wag ’n “donker en bloedige jaar” op die land se boerderygemeenskap.

Só het mnr. Henk van de Graaf, ’n adjunkhoofbestuurder van die landbou-organisasie TLU SA, gistermiddag gesê in reaksie op die moord op mnr. Francois du Toit buite Roossenekal in Limpopo.

TLU SA stel later vandeesweek ’n veldtog teen plaasmoorde bekend en wend hom boonop aanstaande week tot die Europese Unie (EU).

Tot dusver vanjaar was daar volgens TLU SA se syfers vier plaasmoorde (drie in Noordwes en een in Mpumalanga) en vyf plaasaanvalle. Verlede jaar was daar in Januarie net een plaasmoord en drie plaasaanvalle.

“As dié neiging gaan voortduur, gaan 2012 ’n donker en bloedige jaar vir boere wees. Die nuwe jaar het nie lekker begin nie,” het Van de Graaf gesê. “Daar is woelinge en ons is ongemaklik daarmee.”

In 2010 was daar 67 moorde en 113 aanvalle teenoor verlede jaar se 50 plaasmoorde en 85 plaasaanvalle. Dié syfers van 2010 en 2011 kan hoër wees, omdat dit net die gevalle is waarvan die organisasie weet. Die polisie maak nie meer statistieke oor plaasmoorde en plaasaanvalle bekend nie.

Mnr. André Botha, veiligheidshoof van Agri SA, het gesê hoewel die land se boere ’n positiewe rol wil speel, raak hul geduld op.

“Hul ‘moermeters’ is in die rooi.

“Wat ons baie bekommer, is dat mense in baie gevalle geskiet, maar niks gesteel word nie.”

Die (polisie se) landelike veiligheidstelsel en -struktuur ís daar, maar die probleem lê by die uitvoering van daardie plan, het Botha gesê.

Dit lyk volgens hom of die boodskap nie tot op grondvlak deurkom nie en Agri SA probeer dit op alle vlakke takel.

“Dit het tyd geword dat polisiebeamptes wat wanpresteer, kragtens die polisiewet aangekla word,” het Botha gesê.

Van de Graaf, wat aanstaande week ’n openbare vergadering van die EU in Brussel, België, gaan toespreek, het gesê navorsing wys dit neem tot agt jaar om ’n plaas weer in volle produksie te kry nadat die boer vermoor is.

“Dit plaas voedselsekerheid en voedselbeskikbaarheid in die weegskaal,” het hy gesê.

Van de Graaf het gesê TLU SA wend hom tot die EU, omdat hy hoop dit sal internasionale druk op die regering plaas om meer aandag aan plaasmoorde te gee.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment