Wednesday, February 22, 2012

Klip tref oog op pad

2012-02-22 22:26


Janice Keogh
‘Here, asseblief. My man, asseblief.”

So het ’n vrou van Randfontein aan die Wes-Rand oor en oor bly bid terwyl die mans wat haar man met ’n klip en domkrag aangeval het aan die deure van hul voertuig geruk het.

Me. Marietjie le Clus (50) en haar man, Pierre (54), het gister omstreeks 03:30 op die N12 in die rigting van Johannesburg gery toe klippe op die pad naby die Goue Hoofweg-afrit in Soweto hulle gedwing het om stil te hou.

Hulle was op pad Mosambiek toe om te gaan duik.

Mnr. Le Clus vertel hy was reeds oor die groot klippe toe hy dit gesien het en moes stilhou omdat sy linkervoorwiel beskadig is.

Beeld het in die verlede berig oor verskeie voorvalle waar rowers hinderlae stel deur klippe op ’n pad te pak.

Mnr. Arren Mahabeer (32) is in 2008 in so ’n hinderlaag op die N1 doodgeskiet.

Le Clus het gesê hy het al gehoor van sulke voorvalle en gedink hy moet net so gou moontlik die band omruil en daar wegkom.

Hy was besig daarmee toe iemand hom met ’n klip teen die regteroog slaan. Die klip was so groot dat die man dit met albei sy hande vasgehou het.

’n Ander man het Le Clus se domkrag by hom gegryp en hom daarmee begin slaan.

Le Clus, wat 13 jaar in die weermag was, het terugbaklei en die mans so ver moontlik van die motor en van sy vrou probeer weghou.

Sy het haarself in hul viertrekvoertuig toegesluit.

“Ek was histeries. Ek het gedink ek is vir seker volgende. Ek het drie polisie drie keer probeer bel, maar die lyn het bly doodgaan.”

Mnr. Diekie van der Westhuizen, die eienaar van Bitline SA Security, was saam met ’n paar van sy wagte op patrollie toe hy op die voorval afgekom het.

Die maatskappy wat herstelwerk aan die hoofweg doen, G4 Civils, het Bitline gevra om patrolliediens te doen omdat daar weens die padwerk net twee bane van die pad oop is en dit makliker is om klippe op die twee oorblywende bane te pak en só ’n hinderlaag te stel.

Van der Westhuizen het gesien hoe Le Clus geslaan word, onmiddellik uit sy voertuig geklim en hard geskree.

“Hulle moes geskrik het, want hulle het omgedraai en weggehardloop.”

Le Clus vertel daar was drie ander voertuie aan dieselfde kant van die hoofweg en ’n polisie-patrollievoertuig aan die ander kant wat ook oor die klippe gery het. Niemand anders is beseer nie.

Die egpaar is hospitaal toe waar mnr. Le Clus steke aan sy oogbank en lip gekry het.

Hulle het gister weer Mosambiek toe vertrek – dié keer in die dag-lig.

“Jy dink so iets sal nooit met jou gebeur nie. Ek wens niemand dit toe nie,” sê me. Le Clus.

No comments:

Post a Comment