Wednesday, February 22, 2012

Nog ’n gesin in Uitsig deur kapmes-bende oorval

André Damons



INWONERS van Uitsig, Bloemfontein, leef in vrees nadat nog ’n gesin oor die naweek deur ’n kapmes-bende in hul huis oorval en beroof is.

Die twee booswigte, van wie een met ’n kapmes gewapen was, het Saterdag in die vroeë oggendure op mnr. Fanie Gildenhuys (50), ’n werktuigkundige, se huis in Herman Costerstraat toegeslaan. Dit is die vierde soortgelyke rooftog in dié woonbuurt sedert verlede jaar.

Twee weke gelede het rowers ook mev. Elsie Kalp in haar huis oorval. Sy en haar drie kleuters het reeds geslaap toe die mans toegeslaan het, het ds. Hein Kotze van die NG gemeente Uitsig gesê. Volgens hom het die booswigte Kalp met die dood gedreig en haar gedwing om self haar besittings wat hulle wou steel na die treinspoor te dra.

In die jongste voorval het twee mans Gildenhuys Saterdag omstreeks 01:00 oorval kort nadat hy by die huis gekom het.

Gildenhuys se pa, Bernard, is in 2005 in Kaapstad deur rowers vermoor.

Hy het eers gedink die mans is polisiebeamptes omdat dit gelyk het of hulle wapens aan hul sye het, maar toe sien hy een het ’n kapmes, sê Gildenhuys.

Die mans het hom gedwing om die deur oop te sluit en het onmiddellik geld en selfone geëis toe hulle binne is.

“Hulle het gesê: ‘cellphone, money.’ Die een met die kapmes was baie aggressief. Ek het als gedoen wat hulle gevra het en was nie aggressief nie.

Gildenhuys sê sy vrou, Magda (48), het wakker geword en haar in een van die rowers vasgeloop en vir hom gesê: “F*k uit my huis.” Die man het haar weggestoot en gesê: “Go sleep.”

Die rowers het Gildenhuys en sy vrou saam met sy oudste seun, Theuns (25), en skoonpa, Andries (72), in ’n kamer toegemaak en met ’n televisie, drie selfone, twee gholfstelle, ’n rekenaarmodem en geld gevlug. Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, kon nie gister bevestig of ’n bende agter die rooftogte sit nie.

Hy het gesê ’n wit VW Citi Golf sonder nommerplate het vir die rowers gewag. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment