Tuesday, February 1, 2011

SA boer in arres in Zim

Sarel van der Walt
’n Suid-Afrikaanse boer en sy seun word deur die Zimbabwiese polisie aangehou nadat hulle probeer keer het dat plaasbesetters hul plaas oorneem.

Mnr. Janse Grobler (66) en sy seun, Paul (36), van die plaas Geluk in die Nyazura-omgewing naby Mutare in die ooste van die land, is deur die Zimbabwiese polisie in hegtenis geneem nadat hulle waarskuwingskote op ’n groep oproerige plaasbesetters geskiet het, het mev. Antoinette Grobler (60) gistermiddag gesê.

Die plaas is al sedert 1945 in die familie se besit en hulle het al meer as 1 000 ha aan grondhervorming afgestaan.

Mev. Grobler sê haar seun het sedert Vrydag talle dreigoproepe ontvang van ’n man wat beweer hy is ’n politieke kommissaris van Mutare.

Dié het hom gewaarsku sy plaas sou met geweld oorgeneem word.

Sondagoggend het ’n mnr. Colin Mugai, teen wie die Groblers reeds ’n hofbevel gehad het, by die plaas opgedaag en daarop aangedring om met Grobler jr. te praat.

Grobler jr. het geweier.

Eergisteroggend het Mugai weer daarop aangedring om Grobler jr. te sien, wat wéér geweier het.

Die middag het Mugai en ’n groep raserige mense na die plaas teruggekeer en twee hekke oopgebreek.

Grobler jr. en sy pa het waarskuwingskote op hulle geskiet.

“Hulle sou ingekom en ons doodgemaak het as dit nie vir dié waarskuwingskote was nie,” het mev. Grob-ler gesê.

“Ons het van 10:00 af SMS’e en telefoonoproepe na die polisie gemaak, maar hulle het glad nie gereageer nie. Teen 22:00 het die polisie met van die plaasbesetters agter op hul bakkies daar aangekom, die hek oopgebreek en my man en seun saamgeneem polisiekantoor toe.”

Sy het gesê hulle is daar in haglike toestande aangehou en sal vandag in die hof verskyn.

“Die Suid-Afrikaanse ambassade (in Harare) is baie traag om te help,” het sy gesê.

Van die oudstryders wat in die omgewing boer, is die Groblers glo baie goedgesind, maar bang vir die plaasbesetters.

“Die plaasbesetters vertel oral dat hulle die res van die wit boere van hul plase gaan afgooi omdat die Commercial Farmers’ Union (CFU) dit gewaag het om hom tot die hof te wend om die plaasbesettings te keer,” het mev. Grobler gesê.

Sy gaan tuis by mnr. Dolf du Toit en sy vrou, Alida, wat verlede jaar in dieselfde distrik ook van hul plaas probeer verdryf is.

Mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum wat Suid-Afrikaanse boere in Zimbabwe verteenwoordig, het gesê AfriForum sal sy veldtog verskerp om die Suid-Afrikaanse regering te dwing om op te tree om sy burgers te beskerm.

Prof. Mlungisi Makalima, Suid-Afrika se ambassadeur in Harare, het nie op boodskappe gereageer nie.

1 comment:

  1. Really i am impressed from this post....the person who created this post is a genius and knows how to keep the readers connected..

    Divorce Attorneys Pretoria

    ReplyDelete