Tuesday, February 8, 2011

Inwoner (69) se mesdood ruk Karoo-dorp

André Botha



VOSBURG. – Dié rustige Karoo-dorp is geruk nadat ’n bekende inwoner van die dorp die naweek koelbloedig in sy huis doodgesteek is.

Dit was reeds die vierde keer dat in mnr. Giel du Toit (69) se huis ingebreek is. Hy is vermoedelik Saterdagoggend vermoor.

Du Toit was ’n gebore en getoë Vosburger wat sy lewe lank hier gewoon het. Hy het vermoedelik op sy aanvaller geskiet voordat hy met ’n mes doodgesteek is. Vier gate is in die muur van sy huis gekry, sê mev. Marina Pienaar, een van sy drie dogters.

Sy sê ná die vorige inbrake het sy kinders vir hom ’n alarm in die huis laat insit. Swaar weer Saterdag het egter veroorsaak dat die Telkom-lyn af was, sodat die alarm nie geaktiveer is nie.

’n Sestienjarige verdagte het reeds in die hof op Victoria-Wes weens die moord verskyn. Hy het ook in Oktober by die huis ingebreek, sê Pienaar.

Du Toit was die elektrisiën op die dorp, en bekend aan alle inwoners. Hy was ook by die Meerkat-satellietprojek by Carnarvon betrokke.

“(Die moord) is maar ’n hartseer-ding, maar dit is ’n realiteit,” het Pienaar gesê.

Sy het die polisie lof toegeswaai vir hul harde werk om die verdagte aan te keer. Sy sê hulle het oor die naweek onverpoos gewerk. “Hulle was fantasties.”

Ao. Bertus Kruger, woordvoerder van die polisie in die Carnarvon-streek, sê die polisie is Saterdag omstreeks 09:00 ingelig oor sleutels wat in Van Rensburgstraat gelê het.

Terwyl dit ondersoek is, het ’n gemeenskapslid aangemeld dat ’n venster in Du Toit se huis gebreek is.

Die polisie is daarheen, waar Du Toit se lyk in ’n poel bloed gekry is. Hy het verskeie meswonde gehad.

Speurders is van Carnarvon na Vosburg gestuur om met die ondersoek te help.

Verskeie gesteelde artikels is by die verdagte gekry. Nog mense kan in hegtenis geneem word.

Du Toit word Vrydag om 10:00 uit die NG kerk Vosburg begrawe.

Hy word oorleef deur Pienaar van Durbanville, mevv. Alta Brits van Namibië, Liame Klindt van Blouputs naby Kakamas, en mnr. Nardus du Toit van Johannesburg.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment