Sunday, February 6, 2011

Suidlanders slaggereed vir ‘nag van lang messe’

Marlene Malan in Kaapstad
Die verregse Suidlanders-beweging, wat glo wit mense gaan uitgemoor word wanneer oudpres. Nelson Mandela tot sterwe kom, was die afgelope week op hete kole.

Volgens hul leier, mnr. Gustav Müller, het hulle die afgelope week selfs ’n spioen in die Milpark-hospitaal gehad waar Mandela behandel is.

Müller het eergister op die Suidlanders se webblad geskryf die beweging se leierskap is “gereed vir enigiets” en hou elke beweging rondom Mandela dop.

“Ons is so op hoogte dat ons iemand laat opneem het eergister in die hospitaal waar mnr. Mandela is, dat ons selfs weet wie al die besoekers was in die laaste 24 uur,” het hy geskryf.

En die Suidlanders is gereed om terug te veg wanneer die oorlog uitbreek, het hy verseker.

Hy het darem ook bygevoeg daar is geen rede tot paniek nie. Müller en sy volgelinge glo die Boere-profeet Siener van Rensburg het die sogenaamde “nag van die lang messe” voorspel.

Die nag van die lang messe staan by die Suidlanders ook bekend as Uhuru, Opera­tion Vula, Operation White Clean-up, Operation Iron Eagle of die Rooi Oktober-veldtog.

“Uhuru” is die Swahili-woord vir vrede en op talle webblaaie verwys regses ook na die lied Not Yet Uhuru, wat sowat 15 jaar gelede deur die sanger Letta Mbulu bekend gemaak is.

Regse internetskrywers sê dié woord is die kodenaam vir “Die nag van die lang messe”.

In die nag van Madiba se dood gaan die Suidlanders glo onmiddellik met die “ontruiming” van 800 000 wit mense voort.
Veilige persele op plase is reeds geïdentifiseer en sal glo binne 12 tot 24 uur ná die sterfte-aankondiging beman word.

Die ligging van dié plase is onbekend, maar dit word gesê daar is plek vir 8 000 mense op elkeen, met voorraad vir drie maande.

No comments:

Post a Comment