Sunday, February 20, 2011

Moord op boere: ‘Dit moet nóú end kry!’

Celinda Groenewald
Johannesburg - Woede oor geweldmisdaad op die platteland het Saterdag opnuut in landboukringe oorgekook.

Dit kom ná die moorde op die boere Helgard Muller (66) van Frankfort in die Vrystaat en Alberto Costa (44) van Stellenbosch.

Die VF+ “het met skok verneem” van Muller se moord en daarop gewys dat dit die derde plaasmoord die afgelope week in die Oos-Vrystaat was.

“Die VF+ eis dat die regering daadwerklik ingryp,” het Jan van Niekerk, VF+-LPW en voorsitter van die Vrystaatse landbou-portefeuljekomitee, gesê.

Carl Opperman, hoof van Agri Wes-Kaap, sê die regering “hanteer misdaad met handskoene.

“Hy sal ’n daadwerklike politieke besluit moet neem om misdaad uit te roei, maar hy wil nie. In ons land het misdadigers meer regte as wetsgehoorsames.”

Cobus Dowry, oud-minister van landbou van die Wes-Kaap en ’n direkteur van die swart landbou-unie die USAAA, het sy afgryse uitgespreek. “Dit word hoog tyd dat boere beskerm word.”

Die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA) sê daar het sowat een plaasaanval per dag in Suid-Afrika plaasgevind sedert pres. Jacob Zuma se staatsrede op 10 Februarie.

“Periodieke veroordelings deur die ANC werk nie. Veral nie wanneer die ANC op hul ‘reg’ aandring om liedjies soos ‘Skiet die Boer’ te sing nie,” sê ds. Theunis Botha, CDA-leier.

’n Dag nadat ’n bekende Stellenbosse boer in ’n aanval op sy plaas doodgeskiet is, het ’n tweede boer Saterdagoggend met sy lewe geboet toe hy, ook op sy plaas, in die kop geskiet is.

Die jongste slagoffer, Helgard Muller van Frankfort in die Vrystaat, het verlede week 66 geword. Hy het in die ambulans op pad na die hospitaal beswyk.

Die voorval het om 10:00 op die plaas Mara, 15 km buite Frankfort op die R26- Tweelingpad, plaasgevind.

Marietjie Muller (61), sy vrou, en ’n huishulp was alleen toe twee mans in hul vroeë twintigs gewapen met ’n stok en vuurwapen die huis binnegekom en geld gevra het.

“My ma het eers gedink dit was ’n speelgoedgeweer en daarom het sy kalm gebly,” sê Hennie Coetzee (36), hul skoonseun.

Marietjie, wat in ’n rolstoel is, het vir die rowers gesê sy het nie die kluis se sleutel nie en haar man is nie daar nie. Die mans het hulle met toue en skoenveters vasgebind en in verskillende kamers gelaat.

Helgard het ’n uur later by die huis aangekom en is glo in die gang oorval en in die kop geskiet. Die verdagtes het in sy Isuzu-bakkie gevlug wat later op ’n grondpad naby Frankfort gekry is.

Die huishulp het ’n mes in die hande gekry en na Marietjie gevat wat hulle bevry het. Die twee vroue het geen beserings opgedoen nie, maar is vir skok behandel.

’n Saak van gewapende roof en moord word ondersoek.

Helgard word benewens sy vrou en skoonseun deur drie seuns, Nelis (40), Niel (39), Helgard jr. (27) en sy dogter, Haneke Coetzee (36), en sewe kleinkinders oorleef.

Hennie sê Helgard was ’n liefdevolle leier in die gemeenskap wat altyd ander mense eerste gestel het.

Eddie Muller, ’n buurman, sê “dit maak ’n mens bitter. Wat kan ons nou daaraan doen? Ek hoop Julius Malema is nou tevrede. As hulle gaan aanhou met daai liedjie (“Skiet die Boer”) is dit mos nou wat gaan gebeur.”

Verslaenheid heers in Stellenbosch oor die moord op Alberto Costa (44) van die wynplaas Cloetesdal. Dit het Stellenbosch ontneem van een van sy hardwerkendste en suksesvolste boere, het bure gesê.

Costa is Vrydagoggend om 03:00 geskiet toe hy, gewapen met ’n haelgeweer, op sy honde se geblaf gereageer het. Hy het afgekom op twee mans wat besig was om ’n gat onderdeur sy veiligheidsheining te grawe.

Costa is in die bors geskiet. ’n Bloedspoor dui daarop dat hy een van die twee mans raak geskiet het.

Rudi Buys, ’n goeie vriend, sê Costa was besig met ’n reuse-swartbemagtigingsprojek.

“Alberto het drie plase wat vir hóéveel mense werk gegee het.”

Die oud-Springbok Hempies du Toit van die wynlandgoed Annandale het gesê hy is “in ’n toestand. Dis hartverskeurend. Alberto was die sout van die aarde, hardwerkend, suksesvol. Hy en sy ouers is gebore Suid-Afrikaners.”

Costa, een van vier broers, se jongste broer, Flavio, is onlangs in ’n motorongeluk dood.

“Dis érg, érg, érg. Ons is almal geskok. Cloetesdal het top-veiligheidsmaat­reëls – die beste heinings en kameras en alles.”

Costa laat sy vrou, Zelda, en ’n seun (8) en dogter (3) agter.


- Rapport

No comments:

Post a Comment