Tuesday, February 8, 2011

‘Ons het op beste gehoop, die ergste verwag’

Riata Nel en Jody Nel
Die lyk wat die naweek in Viljoensdrif by Sasolburg gekry is, is gister deur emosionele familielede as dié van me. Georgie Jacklin, gastehuis-eienaar van Linden, Johannesburg, uitgeken.

Volgens die polisie is Jacklin (65) oor die kop geslaan met ’n betonblok wat in die oprit van die Sleepers-gastehuis was. Die bloed is afgewas en die betonblok teruggesit.

Twee inwoners van die Richmond-gebied in Viljoensdrif het Saterdagoggend in die veld langs die Vaalrivier op die lyk afgekom.

“Sy is erg verniel,” het speursers. Marius de Beer van die Viljoensdrif-polisie gister gesê.

Jacklin het drie wonde aan die agterkop en ook ’n oogwond gehad. Haar neus is gebreek en van haar tande is uit.

“Haar slaapklere was deurweek met bloed,” het De Beer gesê. Plastiekkabels was om haar mond gebind.

Jacklin se dogters, mee. Vanessa Jacklin-Levin en Natalie Jacklin-Chetty, was gister saam met hul pa, Normand, by die Sasolburg-polisiekantoor om die lyk uit te ken.

“Ons het op die beste gehoop, maar die ergste verwag,” het mnr. Jacklin, die vermoorde se eksman, gesê.

Die gesin het onraad vermoed toe me. Jacklin Sondag nie vir ’n afspraak met Vanessa opgedaag het nie.

“Sy moes my 08:00 ontmoet om met die honde te gaan stap. Sy het nie opgedaag nie. Ek het die tuinier van die gastehuis gebel. Hy het nie my ma of haar motor Vrydagaand of Saterdag gesien nie,” het sy gesê.

Sy is na die gastehuis. “Die tuinier het my die bloed in die oprit gewys. Ek het die polisie gebel.”

Die polisie het Maandag 15:00 gebel met die nuus dat ’n lyk wat aan die beskrywing van Jacklin voldoen in die Sasolburg-lykhuis is.

Volgens die dogters lyk dit of hul ma by die gastehuis vermoor is en haar lyk toe met haar motor vervoer en by Viljoensdrif uitgegooi is.

“Sy was ’n moedige en vriendelike mens wat ander maklik vertrou het,” het Vanessa gesê.

Jacklin was ’n deeltydse onderwyser vir kinders met spe­siale onderwysbehoeftes.

Gister was die personeel van die St. Barnabas College in Bosmont, Johannesburg, geskok oor die nuus dat sy vermoor is.

Volgens die skoolhoof, me. Heather Carolus, was Jacklin sowat agt jaar ’n onderwyser daar.

“Dis is die hartseerste ding. Sy het nie so ’n dood verdien nie,” het Carolus gesê.

Jacklin se motor, ’n rooi 2003-Ford Fiesta met die registrasienommer MGZ 641 GP, asook haar handsak, selfoon en skootrekenaar, word vermis.

Benewens haar dogters laat Jacklin drie kleinkinders agter: ­Richard (20), Elizabeth (2) en Mila (sewe maande).


Mnr. Lightwell Mtonga, tuinier, by die oprit voor een van die gastekamers waar me. Georgie Jacklin vermoedelik vermoor is.

No comments:

Post a Comment