Sunday, February 6, 2011

Pa van 4 in Pretoria beroof en vermoor

Gerhard Pretorius
Die polisie het ’n vermeende moordenaar vasgetrek enkele ure nadat ’n 47-jarige man in die noorde van Pretoria doodgesteek is.

Mnr. Gerhard Groenewald, die pa van vier kinders, is Vrydagmiddag by sy huis vermoor.

Sy vriendin, me. Eveleen Wil­son, het op sy lyk afgekom.

Hy is verskeie keer in die rug gesteek.

Mnr. Tjaart Botha, ’n inwoner van die Stephanie-kompleks in Stephanstraat, Magalieskruin, het gesê Groenewald was besig om te verhuis.

’n 25-jarige man het hom glo in sy huis oorval en doodgesteek.

Die moordenaar het na bewering met Groenewald se bakkie en ’n TV gevlug.

Konst. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, het gesê Wilson het op Groenewald se lyk afgekom nadat sy onraad vermoed het.

“Sy (Wilson) het hom (Groenewald) probeer bel, maar hy het nie sy foon geantwoord nie. Sy het hom by sy huis gaan soek en daar aangetref.

“Die polisie het vasgestel dat Groenewald se bakkie weg is.

“Dié voertuig is omstreeks 18:00 in Soshanguve, noordwes van Pretoria, opgemerk.”

Maleka het gesê die man het probeer wegjaag toe die polisie op hom toegeslaan het.

“Hy is uiteindelik aangekeer en gearresteer.”

Die vermeende moordenaar sal vandeesweek in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

No comments:

Post a Comment