Sunday, February 6, 2011

Man sien moord op ma

Jani Meyer
’n Johannesburgse man het die naweek aanskou hoe kapers sy ma deur haar toe motorruit in die oprit van hul erf doodskiet en toe wegjaag.

Mev. Doris de Jager (50), ’n stenograaf by die hooggeregshof in Johannesburg, was onder meer betrokke by die verhoor van mnr. Glenn Agliotti, wat vrygespreek is weens die moord op die mynmagnaat mnr. Brett Kebble, asook dié van Jackie Selebi, oudpolisiehoof, wat aan korrupsie skuldig bevind is.

Die moordenaars het haar en haar dogter, Margie (21), blykbaar by die huis ingewag nadat hulle Saterdag gaan inkopies doen het.

Margie was besig om die hek toe te maak toe sy twee mans in die erf van hul huis in Ridgeway, in die suide van Johannesburg, sien.

“Een het ’n pistool in die hand gehad. Ek het in die huis gehardloop en na Danie (haar broer) geroep. Ek het ook ADT gebel,” het sy gesê.

Sekondes later het sy twee skote gehoor.

Mnr. Danie de Jager (29) het op die rusbank gelê toe sy suster die huis binnehardloop.

“Ek het ’n gil gehoor en by die deur uitgevlieg.”

Hy het sy ma in sy silwer Corsa-bakkie gesien waar sy van die aanvaller probeer wegskram het.

“Die man het haar deur die toe venster geskiet en toe op my geskiet.”

Mev. De Jager het uit die voertuig gerol en inmekaargesak.

“Ek het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, maar daar het goed by haar mond uitgeloop en sy het geel geword,” het haar seun gesê.

Margie het haar broer hoor roep en haar ma op die grond gesien.

“Ek het haar hoor roggel en toe weet ek dit is verby,” het sy gesê.

Intussen het ’n buurman van die De Jagers en dié se vriende die kapers etlike kilometers ver agternagesit, maar dit laat vaar toe hulle agterkom die kapers besef hulle word agtervolg.

Die buurman, wat anoniem wil bly, was in ’n parkie naby die De Jagers se huis.

“Ons het ’n wit Opel Astra met vier mans in gesien. Die voertuig het stilgehou en twee het uitgeklim. Ons het dadelik onraad vermoed,” het die man gesê.

’n Rukkie later het die voertuig teruggekeer en die buurman en sy vriende het na sy huis gegaan.

Op pad het hulle twee geweerskote gehoor.

“Ons het rondgery en die Astra opgespoor en agtervolg, maar toe die Astra stadiger begin ry, het ons besef hulle het ons opgemerk en ons het teruggedraai. Ons het toe op Danie, wat langs sy ma gesit het, afgekom,” het hy gesê.

ADT en ’n ambulans het oomblikke later opgedaag.

Mnr. Christian de Jager het gesê hy het vyf minute voor die kaping met sy vrou op haar selfoon gepraat.

“Sy was my alles. Ek weet nie hoe ek sonder haar gaan klaarkom nie. Ons het getrou toe sy 17 was en net klaar met skool ... nou sit ek alleen.”

Margie, wat die laatlammetjie in die gesin is, het gesê sy wens sy was die een wat dood is.

“Sy was meer as my ma, sy was my beste vriendin. Ek was nog nooit weg van haar af nie.”

Ao. Gordon Billings, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.


Die ruit van die Corsa-bakkie waardeur mev. Doris de Jager die naweek doodgeskiet is. Foto's: Brendan Croft


Gesinslede van mev. Doris de Jager wat Saterdag in haar oprit doodgeskiet is. Van links is haar jongste dogter, Margie, haar seun, Danie, haar ander dogter Dalene en haar man, mnr. Christian de Jager.

No comments:

Post a Comment