Friday, September 3, 2010

Vrou wou nie hoewe los – toe word sy vermoor

Buks Viljoen
Nelspruit. – ’n 64-jarige vrou wat geweier het om van haar kleinhoewe naby die stad te trek omdat haar oorlede ouers se as daar gestrooi is, is gisteroggend vermoor in haar bouvallige huis gevind.

Mev. Elizabeth Dorey se hande was agter haar rug vasgebind, ’n stuk lap is in haar mond ingeprop en sy is met ’n elektriese koord gewurg.

Dit was die derde keer in sewe jaar dat Dorey in haar huis op haar Hilltop-kleinhoewe aangeval is.

Die moordenaars het Dorey skynbaar Donderdagaand vroeg in die verwaarloosde huis oorval.

Hulle het ’n ruit by die voorstoep gebreek en toe heeltemal uit die vensterraam gehaal om by die huis in te kom.

’n Werker het omstreeks 07:00 by die huis opgedaag en onraad vermoed toe hy die gebreekte ruit sien.

Hy het hulp by die bure sowat 300 m daarvandaan gaan soek.

Hulle het haar lyk in die huis se gang gekry.

“Sy is ’n fyn geboude en weerlose tannie wat voordat sy vermoor is, skynbaar erg deur haar moordenaars aangerand is,” het kol. Gerrie Agenbag, speurtakbevelvoerder van die polisie in Nelspruit, gesê.

Dorey het verskeie erge slaanmerke aan die lyf en die gesig gehad.

Die vorige aanval op haar was op Kersdag 2007 en Agenbag het destyds ook die saak ondersoek.

- Enigiemand met inligting oor die moord is gevra om Agenbag by 013 759 1108 te bel.

No comments:

Post a Comment