Monday, September 20, 2010

66-jarige 3 keer verkrag

Marietie Louw-Carstens
’n Boervrou van Limpopo is glo drie keer om die beurt verkrag deur drie mans wat haar en haar man eergisteroggend op hul plaas aangeval het.

Die 66-jarige vrou is erg getraumatiseer.

Mnr. Francois van den Berg, voorsitter van Agri Limpopo, het gesê dit is skokkend dat aanvalle op plase al hoe gewelddadiger raak.

“Dit is barbaars. Geen opgevoede mens sal so iets doen nie,” het hy gesê.

Die drie mans wat glo die vrou verkrag het, is danksy flink optrede van plaaslike boere en die polisie vasgetrek.

Hulle het die vrou en haar 66-jarige man eergister 09:00 op hul plaas naby Marken oorval.

’n Boer van die gebied het gesê hulle vermoed die drie mans het moontlik by ’n werker op die plaas gekuier.

Lt.kol. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het gesê die aanvallers het die man in ’n buitetoilet met toue vasgebind.

Hulle het daarna die vrou glo al om die beurt binne die huis verkrag.

Ramatseba het gesê die aanvallers het ’n onbekende bedrag, klere en ook ’n elektriese saag gesteel.

Nadat die mans gevlug het, kon die man hom in die buitetoilet loswikkel. Hy het van sy bure gebel.

Verskeie boere in die omgewing is dadelik van die aanval laat weet.

Hulle het vinnig gereageer en paaie in die omgewing versper.

Ramatseba het gesê ’n 25-jarige man en sy twee makkers van onderskeidelik 30 en 38 jaar is in hegtenis geneem.

Hulle is glo afkomstig van die Steylloop-gebied buite Mokopane (Potgietersrus).

Die polisie het beslag gelê op die elektriese saag, klere en geld. Die drie mans is in aanhouding en sal eersdaags in die hof verskyn.

Die vrou is eergistermiddag in die provinsiale hospitaal in Lephalale (Ellisras) behandel.

Van den Berg het gesê boere moet aanhou om hulself te beveilig en saam te werk om aanvallers vas te trek.

No comments:

Post a Comment