Sunday, September 5, 2010

Verkragte hoor: ‘Jy is ’n rassis!’

Hilda Fourie
’n Verkragtingslagoffer moes van ’n polisiekonstabel hoor sy is ’n rassis omdat sy nie wil hê ’n swart ondersoekbeampte moet aan haar saak werk nie.

Dit is maar een van ’n rits probleme wat die 35-jarige ma van ’n sewejarige seun met die polisie se hantering van haar nagmerrie het.

Die vrou het dié konstabel, die aanvanklike ondersoekbeampte, Woensdag gebel oor die vordering van die ondersoek.

Sedert sy en haar seuntjie ses weke gelede in hul kamer in The Orchards in die noorde van Pretoria deur ’n man met ’n tuinvurk oorval is, het die polisie haar nog net een keer besoek.

Die aanvaller het hulle aangehou en geld geëis.

Haar seuntjie het gesê hy het R30 in sy beursie.

Die aanvaller het die R30 gevat, die ma verskeie kere met die tuinvurk aangerand, haar verkrag en ontvoer.

Sy het vermoedelik uit die bewegende voertuig gespring.

Sy kan die voorval nie onthou nie, maar is langs die Mabopane-snelweg (R80) buite Pretoria gevind met ’n gebreekte regterarm en -been en ’n gebreekte kakebeen.

Die vrou se probleme met die polisie het begin toe die polisie meer as twee weke ná die voorval en nadat Beeld hul aandag daarop gevestig het, haar verklaring afgeneem het.

Twee weke gelede het haar eksman haar motor in die polisie se skut gekry. Die motor is eers drie dae ná die voorval daar ingeteken en daar is glo meer as 200 km met die motor gery. ’n Week gelede wou die vrou haar besittings kry wat in die motor was.

Dit was by die Akasia-polisiekantoor ingeteken. Verskeie van dié besittings is glo weg.

Toe die vrou die konstabel vra oor die vordering van die saak, het hy erken hy het nog niks gedoen nie.

“Die konstabel het gevra ek moet hom ’n beskrywing van die man gee. Ek kan nie, want ek kan regtig nie onthou nie.

“Toe sê hy hy kan nie help nie,” het die vrou gesê.

“Toe ek vir hom sê hy doen nie sy werk nie, het hy gesê ek is ’n rassis, want ek wil mos nie ’n swart man vir ’n ondersoekbeampte hê nie.

“Dis net dat ek ’n vrou verkies. Ek is doodbang vir mans.

“Ek wil nie eens uitgaan nie, want dit lyk of elke tweede man op straat my wil aanval.

“Dit gaan nie daaroor dat hy swart is nie. Dit gaan daaroor dat hy nie sy werk doen nie.”

Lt.kol. Eugene Opperman, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die polisiebestuur is bewus van die polisieman se optrede en dit “kry aandag”.

No comments:

Post a Comment