Tuesday, September 21, 2010

68-jarige baklei terug toe kapers sy bakkie wil vat

Dries Liebenberg
Durban. – Net nadat ’n 68-jarige man van dié stad sy rug gedraai het om ’n blouapie te jaag wat sy piesangs gesteel het, het hy appels geswaai met ’n kaper wat toe ook toegeslaan het.

“Gee my die f****n sleutels,” het ’n jong kaper met ’n vuurwapen in die hand mnr. Terry McDowell van die woongebied Hillcrest eergistermiddag toegesnou.

Dié woorde het McDowell kwaad gemaak en hy het na die kaper geslaan wat omtrent ’n halfmeter van hom gestaan het, het die afgetrede sakeman gister vertel.

Die petalje het begin toe McDowell by ’n huis in Glenwood wat hy gewoonlik verhuur, opgedaag het vir instandhouding.

Albei voorste deure van sy Hilux-dubbelkajuitbakkie was oop terwyl hy ’n boor en nog gereedskap in die oprit uitgelaai het.

Op die voorste passasiersitplek het ’n tros piesangs en nartjies gelê wat hy vir middagete sou eet.

Een van die blouapies wat die bure gewoonlik tot raserny dryf, het die vrugte uit ’n boom raakgesien.

In ’n oogwink het die apie die piesangs gegaps en McDowell het om die bakkie gehardloop om die dier te jaag.

Met die omdraaislag het hy twee mans naby hom sien staan.

“Ek het nog vir hulle gesê: ‘Die bleddie aap het my piesangs gesteel.’”

Toe die mans hom sonder ’n sweempie emosie aankyk, het McDowell geweet daar’s fout.

Dis toe dat die een die wapen uithaal en die sleutels eis.

“As die man 2 m van my gestaan het, sou ek seker vir hom die sleutels gegee het. Maar hy was so naby dat ek net na hom geslaan het.”

Hulle het op die sypaadjie rondgerol en gestoei terwyl die tweede kaper in die kajuit gespring en die bakkie aangeskakel het met die sleutels wat in die aansitter was.

McDowell is drie of vier keer oor die kop geslaan met die wapen terwyl sy aanvaller aanmekaar gesê het: “Ek sal jou doodmaak!”

McDowell het nog aan sy been probeer vasklou, maar hy was klaar katswink toe die man losruk en hy en sy makker wegjaag.

Tracker het die bakkie 20 minute later opgespoor, maar die kapers is skoonveld.

McDowell het 20 steke aan sy kop gekry waar hy met die wapen geslaan is.

No comments:

Post a Comment