Friday, September 17, 2010

Die hoopvolle mites van die Afrikaner - PRAAG Webtuiste

Daar is te veel mites wat deur sommige Afrikaners aangehang word, waarmee ons hoopvol passief op uitkoms sit en wag. Daardie mites maak dat ons sit en wag vir iets of iemand om vir ons verlossing soos ‘n geskenkie in ons skote te kom gooi.

Vir te lank is daar mense wat glo dat Vigs die swartmense van Afrika so gaan uitroei, dat die blanke net weer in die ou staatskantore kan instap en aangaan soos alles twintig jaar gelede was. Dit is nie waar nie, en alle mites wat daaroor versprei word, veral onder regse Afrikaners, moet een of ander tyd in perspektief gestel word.

Alhoewel dit steeds ‘n ongeneeslike siekte is wat skrikwekkende gevolge ingehou het vir baie mense en veral die swartmense van Afrika, is dit besig om die normale kurwe van endemiese siektes te volg, en gevolglik is Vigs besig om af te plat.

Volgens die VN se 2008 verslag oor die status van Vigs in die wêreld, is dit die moeite werd om op die volgende te let:

•Wêreldwyd het die persentasie mense wat met Vigs leef, afgeneem sedert 2000.
•In 14 van 17 lande in Afrika, het die persentasie van swanger vroue van tussen 15 en 24 begin afneem sedert 2000/2001, en in 7 lande het die infeksiepersentasie tot onder 25% gedaal, wat die teiken was vir 2010.
•Soos wat toegang tot medisyne verbeter het oor die afgelope 10 jaar, het die verwante sterftes begin daal.
•Lande buite Afrika soos Indonesië, die Russiese Federasie en ander hoë-inkomstelande het toenames in Vigsgevalle begin toon.
•Sedert 2000 het die persentasie kinders wat Vigs opdoen, afgeneem as gevolg van beter medikasie en voorsorg.
•Sedert 2003 het die aantal kindersterftes as gevolg van Vigs begin afneem.
•Op ‘n globale skaal het Vigsinfeksies begin stabiliseer.
Goed, genoeg van die statistieke.

Ek is bang dat die Afrikaner na strooihalmpies gryp om hulleself moed in te praat vir die toekoms, en dat alles eendag as gevolg van “sommer net gebeurtenisse” weer sal goed gaan. En die Vigs-mite is een van daardie strooihalms. Dit gaan nie gebeur dat al die swartmense sommer net een oggend almal dood is as gevolg van Vigs nie. Nie in die volgende 500 jaar nie!

As ons ernstig is oor ons toekoms moet ons daardie tipe van naïewe redenasies en valse hoop begin identifiseer en dit sien vir wat dit is – mites en stories. Alhoewel ek ook Adriaan Snyman se boeke oor Siener van Rensburg besit en gelees het, is dit dwaas om te wil glo dat alles sommer net gaan regkom, omdat ‘n Boereprofeet dit voorspel het.

Daar gaan nie binne die volgende 100 jaar ewe skielik drie amptelike briewe van die Duitse kansellier by Tuynhuis afgelewer word, en dan gee die ANC die land op ‘n skinkbord aan ons terug nie. Duitsland is op hierdie stadium een van die mees liberale lande in Europa, sodanig dat die Duitsers in strome na Suid-Amerika emigreer omdat die Turke in Duitsland meer regte en voorregte as inheemse Duitsers geniet.

Ook gaan daar nie ‘n man in ‘n bruin pak die burgers op ‘n koppie noord van Lichtenburg toespreek, en dan saal ons op en neem Pretoria terug nie. Daar is nie eers ‘n koppie noord van Lichtenburg nie!

Een van die mees beskamende oomblikke in my lewe was by ‘n geleentheid in Pretoria, waar Manfred Roeder, die huidige leier van die Nazi Party, ‘n groep Afrikaners toegespreek het. Ná die man se toespraak, staan daar ‘n omie op, en vertel roerend vir Roeder hoe swaar ons Afrikaners nou kry, en hy wil weet wat die Nazi’s of Duitsers gaan doen om ons te kom help. Roeder was openlik stomgeslaan en het baie duidelik gesê dat hulle hulle eie probleme probeer oplos, soos ons ons eie probleme moet oplos. Het ons so lam geword van skok, dat ons nie eers onsself wil of kan help nie?

Dan is daar die mite oor die nag van die lang messe. Ek was self betrokke by Militêre Intelligensie in die ou SA, en weet goed hoe teenintelligensie en disinformasie werk. Mense, die nag van die lang messe gaan nie in hierdie tyd en eeu gebeur nie, en ons moet oppas om sommer net sulke stories te glo, net omdat dit ons seer en hartseer, oor dit wat ons verloor het, pas. Sulke stories word geskep en versprei om verwarring en paniek te veroorsaak.

Ek onthou in die ou HNP/KP/NP-politiek, het daar ‘n kastige uittreksel uit Edgars se direksie vergadering “gelek” waar ‘n Joodse vrou sou gesê het dat sy bly is die Afrikaner se mag in SA is besig om gebreek te word, en dat sy spyt is dat die plan in 1901 waar 26 000 van ons “filthy stinking women and children” uitgesterf het nie geslaagd was nie. Die dokument was duidelik ‘n versinsel en sommer op ‘n baie ou misrabele tikmasjientjie getik, maar die stoere Afrikaners was in opstand. Skielik was die Jode weer gehaat en wou almal net Edgars begin boikot.

Maar dit was weereens baie duidelik ‘n geval van disinformasie om paniek en chaos te veroorsaak. Dit is ‘n ou tegniek wat gebruik word om mense se aandag af te lei van ander sake wat nie in die openbare oog moet kom nie. Wie verantwoordelik was, sal mens net kan raai. Mens moet altyd onthou dat Lang Hendrik van den Berg sy opleiding by die CIA in Amerika gekry het. So het ook die ANC se intelligensiemense hulle opleiding by die CIA gekry.

Die Liewe Vader gaan ook nie vir ons sommer skielik uit die hemel ‘n stuk aarde laat val omdat ons nou weer volgens die Ou Testament brandoffers bring, en dan kan ons dit as ‘n beloofde land sommer net in besit neem en begin boer en kerke bou nie. Ek glo dat Hy wil hê dat ons die hande uit die moue steek en iets begin doen.

Daar kan nog baie voorbeelde van mites wat in omloop is genoem word, soos dat ons nie met enige heiden hoef te onderhandel nie. In dié opsig, is dit baie onvanpas om vir Carel Boshoff te probeer vergelyk met Piet Retief, omdat Orania nou vir Zuma ontvang het en oom Carel met Zuma onderhandel het. Ons kan eenvoudig nie glo ons sal nie met die ANC moet onderhandel as ons selfbeskikking en onafhanklikheid wil bereik nie. Daar is geen manier wat ons onderhandelings met die huidige regering, of ons hom erken of nie, kan vermy nie. In die oë van die wêreld is dit die wettige regering en die Afrikaners wat glo dat ons soos ‘n eiland in die wêreld sal kan oorleef sonder om met die “heidene en volksvreemdes” kontak te hê en handel te dryf, is dwaas.

Die Afrikaner moet nou van die ossewa afklim, in sy Toyota Hilux Dubbelkajuit klim en aan die moderne wêreld begin deelneem. Kakiebroeke, velskoene, two-tone hemde en al. Slegs deur middel van slim moderne idees en beplanning sal ons ons vryheid kan verkry. As mens oorsee gaan reis het, besef jy hoe die wêreld werk. Ons sal in daardie idioom moet inpas en optree, anders skiet ons net onsself in die voet. En daarmee sê ek nie dat ons nou ons beginsels en kultuur moet begin prysgee nie.

Die gevolgtrekking is soos volg: Óf ons speel die spel volgens die moderne reëls en ons bereik ons doelwit, óf ons speel volgens die ou uitgediende reëls, en ons bly vir ewig bywoners op ons eertydse plaas.

http://www.praag.co.za/menings-magazine-196/briewe-magazine-230/8793-die-hoopvolle-mites-van-die-afrikaner.html

No comments:

Post a Comment