Friday, September 17, 2010

Matie vermoor ‘toe hy vriendin wou beskerm'

Blanché de Vries

Stellenbosch

’n Jong Matie wat sy vriendin glo van ’n verkragting probeer red het, het met sy lewe geboet.

Daniel Booysen (22), ’n uitblinker-finalejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch, is gister in die vroeë oggendure voor die Corridor, ’n kultuur-en-toerismesentrum, in Kayamandi doodgesteek.

Hy was ’n student aan die departement natuurbewaring en entomologie van die fakulteit agri-wetenskap en het die meeste van sy vakke met onderskeiding geslaag.

Hy het gister omstreeks 03:00 saam met ’n vriendin in George Blakestraat langs die Corridor in Kayamandi gestap toe hulle deur drie onbekende mans aangeval is.

Volgens gerugte op kampus het die verdagtes Booysen se vriendin probeer verkrag. Hy het die aanvallers vermoedelik probeer keer en is in die stoeiery doodgesteek.

Kapt. René Matthee, woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, het gesê ’n ooggetuie wat verbygery het, het blykbaar die verdagtes afgeskrik.

Die mans het weggehardloop.

“Toe die ooggetuie aankom, het hy die slagoffer op sy rug sien lê met bloed wat by sy nek uitloop.”

Volgens Matthee is Booysen vermoedelik een keer met ’n onbekende skerp voorwerp in sy nek gesteek. Hy is op die toneel dood.

Die vriendin is volgens die polisie in ’n stabiele toestand en kry traumaberading.

Matthee het gesê die rede vir die twee studente se besoek aan Kayamandi is nog onbekend.

Booysen, wat aan die Kings School in Robin Hills, Johannesburg, gematrikuleer het, se ouers woon in Australië.

Sy ma, me. Gill Booysen, het per e-pos aan Nuus24 gesê hy was vir haar baie spesiaal.

“Hy was ’n baie gelukkige seun, maar was ook baie privaat. Ons is verpletter. Ek weet daar is baie, baie mense in Afrika wat deur misdaad geraak word, maar ek kan dit nog steeds nie glo nie.”

Hy was volgens sy ma trots Suid-Afrikaans en het gekies om nie saam met hulle na Brisbane te verhuis nie.

Sy suster, Jenny Booysen, ook ’n Matie, bly sedert die voorval by familie in Rondebosch tot hul ­ouers uit Australië kom.

Dr. Llewellyn MacMaster, studentedekaan, het namens die US sy medelye met die oorledene se gesin, vriende en familie uitgespreek: “As universiteitsgemeenskap is ons met afgryse vervul oor so ’n sinlose daad en kan net hoop dat die misdadigers vinnig aan die pen sal ry. Ons dink in hierdie hartseer tyd aan die gesin en moedig naasbestaandes en vriende aan om via die US se sentrum vir studentevoorligting se beradingsdienste gebruik te maak.”

Enigeen met inligting word versoek om konst. Chris Vosloo by 083 461 9332 te bel.





- Die Burger

No comments:

Post a Comment