Friday, September 3, 2010

Bloedspoor

Gloria Edwards
Vyf rowers en ’n vragmotorbestuurder is gister doodgeskiet in ’n waaghalsige vlaag van misdade wat oor sowat 75 km tussen Kinross in Mpumalanga en Springs gestrek het.

’n Bende swaar gewapende rowers het vroegoggend eers die inwoners van drie huise in Kinross aangehou en beroof voordat hulle twee mense met messe aangeval en met duisende rande en besittings in vier wegkommotors gevlug het.

Volgens lt.kol. Eugene Opperman, Gautengse polisiewoordvoerder, het die rowers in Devon se rigting gevlug en glo verdwaal. Hulle het verby die Devon-polisiekantoor gery terwyl beamptes juis besig was om uit te jaag om na hulle te soek.

Dít nadat ’n jong seun glo tydens een van die rooftogte uit sy huis ontsnap en die polisie ontbied het.

“Die rowers het op die polisie losgebrand. Niemand is beseer nie en die beamptes het hulle agternagesit.”

Op die R29-pad (Ermeloweg) net buite Devon het die polisie op een van die wegkommotors, ’n minibus, losgebrand om dit tot stilstand te bring. Die rowers het toe probeer om ’n vragmotor te kaap en die bestuurder daarvan doodgeskiet.

Toe het hulle ’n rooi Mazda gekaap. In die daaropvolgende skietgeveg is drie rowers doodgeskiet, terwyl die res in die rigting van Springs gejaag het.

Springs-polisiebeamptes en Ekurhuleni-metropolisielede het egter van daar af op die rowers afgejaag en die boewe net buite die dorp aangekeer.

“’n Massiewe skietgeveg het uitgebreek en die Mazda is van die pad gestamp,” het Opperman gesê. Die rower wat die Mazda bestuur het, is dood toe die motor gerol het en nog een is doodgeskiet. Twee polisiebeamptes is in die ongeluk beseer.

Opperman het bevestig vier rowers is gearresteer – drie by Devon en een by Springs. Sewe vuurwapens, waaronder ’n R5-aanvalsgeweer, verskeie van die besittings en die vier wegkommotors (’n BMW, Toyota Condor, bakkie en minibus), is teruggevind.

Die polisiehelikopter is later ontbied om na minstens een rower wat gevlug het en duisende rande wat glo gebuit is, te soek.

Mev. Feroza Ismail het geskok vertel sy, haar vyf kinders, twee huiswerkers en veiligheidswag is in hul huis in Gardinastraat in Kinross oorval en beroof.

“Hulle het ’n foto van my man, Faizel, wat by die werk was, aan my dogter gewys en gesê hulle soek hom.”

Die Ismails besit verskeie sakeondernemings. Volgens Ismail is “derduisende rande”, juwele en sowat 30 selfone by hulle gebuit.

“Hulle het ons vasgebind en aangerand en twee van ons bouers met messe in die kop gesteek. Een is bedenklik in die hospitaal.”

Brig. Jeshop Shabangu, Springs-polisiebevelvoerder, het die betrokke polisiebeamptes vir hul dapperheid geprys.

“Polisie 5 – rowers 0,” het hy gesê.

No comments:

Post a Comment