Tuesday, October 12, 2010

Groenskrif wil hê wit boere moet grond deel

Llewellyn Prince
Plaasboere wat “te veel” grond het om op te boer, sal dit met swart Suid-Afrikaners moet deel.

Verder gaan buitelanders wat in die toekoms kommersiële grond in Suid-Afrika wil koop, dit net regkry as hulle swart vennote daarby betrek.

Dít is van die voorstelle soos vervat in die groenskrif vir die nuwe beleid oor grondeienaarskap wat reeds deur Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondsake, afgeteken is.

Dit sal binnekort aan die kabinet voorgelê word vir goedkeuring.

Daarna moet dit deur ’n parlemen­têre proses gaan. Daarom kan die departement nog nie sê wanneer presies dit in werking gestel sal word nie.

Johannes Möller, president van Agri SA, het Vrydag egter dié voorstelle as “dom” afgemaak en gesê die departement weet self nog nie hoe dit reggekry gaan word nie.

Die departement beplan om met die nuwe beleid die stelsel van grondeienaarskap in Suid-Afrika in sy geheel te hersien, het Mthobeli Mxotwa, Nkwinti se woordvoerder, aan Rapport gesê.

Volgens hom sal daar ook, sodra die beleid in werking gestel is, ’n kommissie vir grondbestuur gestig word wat ’n nasionale databasis gaan hou wat sal wys aan wie elke stuk grond in Suid-Afrika behoort.

Mxotwa sê die hoofdoel van die beleid is sodat swart Suid-Afrikaners ook eienaars van kommersiële grond kan word.

Luidens die departement se statistieke word 87% van alle kommersiële grond deur wit mense en buitelanders besit en 13% deur swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners.

“Kommersiële grond” is nie net plase nie, maar alle grond waarop sake gedoen word. Daarom moet swart Suid-Afrikaners se regte tot grondbesit geprioritiseer word. Ons gaan egter nie net links en regs grond loop en gryp nie, alle belanghebbendes sal insette kan lewer. Die beleid is nodig om die aspirasies van alle grondhonger Suid-Afrikaners te bevredig, ongeag hul ras, kleur of geslag.”

Volgens Mxotwa het die beleid drie voorstelle:
- ’n Perk op hoe groot die private grond is wat een persoon kan besit. Dit beteken as daar bevind word ’n skaapboer het net 100 ha nodig en ’n groenteboer het 300 ha nodig om te boer, maar baie meer as dit besit, kan die regering dié oortollige grond verkry en aan swart Suid-Afrikaners uitverhuur,” sê Mxotwa.
- ’n Tweede voorstel is dat staatsgrond in die toekoms nooit verkoop sal word nie, maar slegs verhuur kan word.
- ’n Derde voorstel is dat buitelandse burgers wat kommersiële grond in Suid-Afrika koop, maar nie voltyds daarop woon nie, net mag boer mits hulle swart vennote het.

“Dit is belangrik omdat baie plase, byvoorbeeld in die Wes-Kaap, tans deur buitelanders gekoop word en die plaasarbeiders dan van die grond gesit word.”

Möller sê die nuwe beleid kom neer op die sentralisering van mag en besluitneming.

“Die departement kan tans nie eens sy werk doen nie. Van sy grondhervormingsprojekte het 90% misluk. Dit gaan daarop neerkom dat ’n geweldige hoeveelheid amptenare aangestel gaan word om kommersiële boere ondoeltreffend te maak.

“Hoekom help hulle nie eers sukkelende swart boere wat tans grond besit om suksesvol te wees nie?”

Oor die voorstel oor buitelanders sê Möller: “As jy eers voorskriftelik raak, wil jy mos nie buitelandse beleggers hier hê nie.”


- Rapport

No comments:

Post a Comment