Charles Smith
REITZBURG. – Die Here het een nag hier Sy hand tussen die sneller van ’n 9mm-pistool en die vinger van ’n rower gedruk.
Die booswig het die rewolwer vier keer teen Johan Roestorf se kop gedruk en die sneller getrek. Vier keer het die rewolwer net geklik.
Reitzburg, die kleinste dorpie in die Vrystaat, is ’n eenwinkel-plekkie. ’n Plaaswinkel langs ’n stofstraat. Stof, murasies, bome. Stories wat stof geword het. Soos dié storie.
Rooi deure
Jy druk die rooi deure van die Reitzburg-winkel oop. Dié aand, vyf jaar gelede, het drie rowers van oorkant die Vaalrivier aan die deure geklop. Die Roestorfs, wat agterin woon, het oopgemaak om mense te help.
Die verhaal wat jy hier in die skemer hoor, is angswekkend en ook inspirerend. Saam met die booswigte het nóg ’n Figuur gestap, sien jy in Johan Roestorf se oë.
“Daai aand roep die Here my aan in my oomblik van benoudheid. In my gedagtes sê ek: ‘Here, dis nou die tyd. Ek roep U aan!’ Daai aand het die Here ons werklik, werklik beskerm.”
Die booswigte het Roestorf, eienaar van die Reitzburg-winkel, en sy vrou aangehou en geld en wapens geëis. Wat toe gebeur het, is iets wat die aanvallers liefs sal wil vergeet.
Jy rúík die plaaswinkel as jy hier instap. Op die rakkie bo die tamaties, uie en aartappels is afrikanerbees-horings te koop teen R30. En ’n blesbokskedel vir R70.
Raserige deuntjie
Op die stoep speel ’n raserige deuntjie op ’n selfoon. Mense drink bier en speel kaart. Susan Roestorf maak vuur in ’n konka met palmtakke. So 140 jaar gelede toe hier aan die oewer van die Vaal goud ontdek is in die Vredefort-koepel was dit ’n lewendige plek.
Goud is aan die Witwatersrand ontdek en die delwers het verhuis.
Dis doodstil en bitter koud.
Johan en Susan Roestorf is al 32 jaar hier. Eensaam ja, maar hy doen flink sake. Hulle mik nou om te trek.
Die winkel en sy stories bly.
Daar was die koei wat elke oggend haar halwe witbrood in die winkel kom haal het. Daar’s ’n wonderlike foto van haar teen die glaskas. Ook ’n foto van ’n boer wat sy skaap op die toonbank kom plak het.
Woeste geveg
Dan is daar dié storie oor die woeste geveg ’n aand in Februarie 2007: Die booswigte wat die aand in die donker winkel hul haelgeweer, .303- en .22-geweer geroof het.
Susan sê toe sy haar man hoor roep en ’n gestoei hoor, het sy besef dis ’n aanval. Sy het die kamerdeur toegedruk.
Toe sy na buite hardloop, voel sy hoe een haar gryp en sy hoor ’n skoot klap.
“Ek besef toe ek is nie dood nie. Ek beweeg my arms, my bene, my voete en draai my kop. Ek dink toe: Nee wat, ek lewe nog. Hy het my opgepluk aan my klere.”
In die winkel sien sy hoe hulle haar man skop. Sy is vasgebind. Sy het gevoel dit word warm aan haar bors. Toe sy afkyk, besef sy sy is deur die bors geskiet.
“Ek lê toe daar en bid vir die Here: ‘Spaar ons lewens, asseblief. Laat hulle vat wat hulle wil hê.’ Ek het so ’n rukkie gelê toe kry ek my hande los. Hulle was nog besig met die oom.”
Marnet-radio
Een booswig het uitgeloop met sigarette. Sy het die deur toegedruk, haar hande om die Marnet-radio gedruk en hulp geroep. Binne minute was boere op pad.
Sy het haar weggesteekte wapen in die hande gekry. Die booswig het ingekom en oor die radio gehoor hulp is op pad.
“Toe dink ek: Soos wat hulle uithardloop, sal ek hulle afmaai! My rewolwer was net bietjies te swak. Toe ek die een skiet, laat val hy sy rewolwer. Ek loer om en sien die tweede een gaan skiet. Ek koes en hy skiet langs die telefoon vas.”
‘Maar ek skiet’
“Toe ek weer sien, sien ek hulle hardloop by die hek uit. Maar ek skiet. Ek maak daai rewolwer leeg, al sien ek niemand nie. Hulle het die .303 by die hek laat val, die .22 en my juwelekissie. Ook die sakkie met die kleingeld; die note het hulle in hul sakke gedruk.”
Die polisie het daarna nie gedink sy het die een booswig raakgeskiet nie.
“Ek het gesê: Ek wéét dit was raak. Ek het nog die vorige dag ’n aap uit die boom geskiet.”
Johan Roestorf het gereken dit moes ’n speelgoedwapen wees wat hulle teen sy kop gedruk het. Hulle het die sneller vier keer getrek en vier keer het hy net geklik.
Susan: “Toe sê die polisieman nee, dit was ’n 9-millimeter met nog sewe rondes in.”
Die rowers is met hul wapens aangekeer.
Die Here is híér
Johan: “Dis toe wat ek besef: Die Here kan Sy vinger by die sneller indruk. Dan gaan die skoot nie af nie. Ek glo dit. Absoluut.”
Hulle vrees niks nie. Wat moet gebeur, moet gebeur, die Here is híér in die Reitzburg-winkel. Hy was hier en is nóg hier. - Volksblad
No comments:
Post a Comment