Thursday, November 8, 2012

http://www.censorbugbear-reports.blogspot.com/2012_11_06_archive.html

More Info

Harrismith: Dominee, seun dood ná aanval

Maryke Swart 'n Dominee van die Oos-Vrystaatse dorp Harrismith en sy dogter se vriend is dood en sy vrou ernstig beseer nadat hulle gisteraand aangeval is. Ds. Willem Brits, van die NG Kerkenberg op die dorp, en sy gesin is gisteraand in hul pastoriehuis oorval terwyl hulle glo TV gekyk het. Brits se dogter se vriend wat by haar gekuier het, is op die toneel doodgeskiet. Ds. Brits en sy vrou, Dorethia, is albei met 'n byl aangeval. Willem is vanoggend in die Mediclinic Hoogland oorlede. Dorethia is na die Mediclinic Bloemfontein gebring. Sy het erge kopbeserings. Die egpaar se drie kinders was tydens die voorval in die huis. Hulle hande is glo vasgebind. Sover vasgestel kan word, is die kinders nie ernstig beseer nie. Volgens inligting is een van die verdagtes reeds buite Harrismith op die N3-hoofweg vasgetrek. Die verdagte het glo bloed op sy klere en die egpaar se selfone by hom gehad. Volg Volksblad op Twitter vir die jongste nuus hieroor.

Thursday, September 27, 2012

Eienaar van roomyswinkel erg aangerand

NADAT hy meters ver om ’n gebou gesleep is en vyf keer met ’n mes bygedam en beroof is, het ’n Bloemfonteinse winkeleienaar genadiglik die dood ontkom. Willie Booysen (60), wat ’n onderneming in Wes-Burgerstraat besit waar werknemers met fietse uitgaan en roomys teen ’n kommissie verkoop, was gister ná sy ontbering die afgelope Vrydag weer op die been. Een van die steekwonde in sy nek het na bewering rakelings sy hoofslagaar gemis. Hy is ook drie keer in die skouer en skrams bo sy linkeroog raakgesteek. Booysen is kort ná die aanval na die Mediclinic Bloemfontein gebring. Hy vertel hy het Vrydagaand by ’n syhek vir ’n werknemer gewag om terug te kom sodat hy die winkel kon sluit. “Hy moes 17:00 terug wees. Ek het hom net die vorige dag aangespreek omdat hy so laat kom. Ek wil nie die winkel in dié gebied te laat sluit nie.” Toe die roomysverkoper kort ná 18:00 terugkeer, het hy hom weer aangepreek. Oomblikke later het twee mans hom met pepersproei in die gesig gespuit. Dit is dieselfde botteltjie pepersproei wat hy vir sy werknemer gekoop het om hómself op straat mee te beskerm. Hy het sy werknemer om hulp gesmeek. Die werknemer het glo gesê: “Ek gaan vir húlle help. Vir jou maak ek vrek.” Booysen sê hulle het hom na die agterkant van die gebou gesleep waar niemand hulle kon sien nie. “My knieë, my maag en elmboog is nou nog rou.” Die aanvallers het hom erg aangerand. Hy het na die winkel probeer terughardloop. Daar het sy werknemer hom herhaaldelik met die mes gesteek. “Hulle het my aanhou slaan en beveel om die brandkluis oop te maak. Ek het geweier.” Die rowers het sy selfoon, ’n skootrekenaar, sy juweliersware, beursie met kaarte en kontant, asook sy bakkie se sleutels gebuit. Booysen het dit reggekry om deur die winkel se voordeur te ontsnap en hulp te ontbied. Die rowers het toe gevlug. “Dit is die eerste keer in my lewe dat ek só iets oorkom. Dit gebeur mos altyd met ander mense. Ek gaan net meer op my hoede moet wees. “Ek oorweeg dit om na ’n ander perseel te skuif.” Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die 38-jarige Pule Mosepele, die betrokke werknemer, en nog een van die vermeende aanvallers het reeds in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van besigheidsroof en poging tot moord verskyn. Die ander twee vermeende rowers is nog op vrye voet. - Volksblad

Houe by spoedlokval

Middelburg. – ’n Groep verkeersbeamptes het ’n 52-jarige man glo “soos ’n trop wolwe” aangerand terwyl sy vrou en 17-jarige seun toegekyk het. Deon Coetzer, wat vier maande gelede ’n rugoperasie ondergaan het, het vertel die beamptes het eergister ’n spoedlokval reg voor sy huis in John Magagula-straat opgestel. “Ek het by my huis aangekom om dringend dokumente te kry. ’n Motor wat voorgekeer is, het in my oprit gestaan.” Coetzer het aan die motoris en ’n verkeersbeampte gesê om die motor te skuif. Die beampte het glo gesê hy moet wag omdat die grond (die oprit) “aan die regering” behoort. “Ek het uitgeklim en was op pad om my hek met die afstandbeheerder oop te maak toe ’n beampte die bos sleutels uit my hande gegryp het. Ek het hom aan sy trui getrek, maar hy het met my sleutels weggehardloop. Ek het agter hom aangehardloop en hom weer aan die trui probeer pluk. Hy het omgedraai en na my geslaan.” Volgens Coetzer het hy toe omgedraai en weggestap, maar die beampte het hom weer probeer slaan. ’n Ander beampte het albei gekalmeer. Coetzer se vrou, Jane, en seun, Bertus (17), het intussen uit die huis gehardloop. “Die volgende oomblik het iemand weer aan my skouer gevat,” het Coetzer gesê. “Ek het die hand weggeklap en die volgende oomblik was daar ’n klomp beamptes bo-op my. Die een het my tussen my bene opgetel en onderstebo op die grond neergegooi. Hulle het my begin slaan, op my gespring en my tussen my bene geskop. Hulle het my een hand geboei en daarop gaan staan.” Nog beamptes het opgedaag. Magda van der Merwe, wat daar verby gery het, het vertel: “Ek het in ’n stadium agt beamptes getel wat die man om die beurt geskop en geslaan het. In ’n stadium het een van die beamptes op die man se kop gespring. Hulle het soos ’n trop wolwe te kere gegaan.” Coetzer is toe in ’n vangwa gegooi. Sy vrou het nader gehardloop om met hom te praat. “Ek en Bertus het Coetzer probeer help, maar hulle het ons net weggestamp. Een van die vroulike verkeersbeamptes het vir my gesê dat ek nie die nag sal oorleef nie en dat ek niks daaraan kan doen nie omdat die regulasies haar beskerm. Ons leef nou in vrees.” Coetzer is na die Middelburg-polisiekantoor geneem waar hy op borgtog van R500 vrygelaat is. Hy het gister in die hof verskyn op aanklagte van die belemmering van verkeersbeamptes in die uitvoering van hul pligte, aanranding, crimen injuria en verset teen arrestasie. Die verrigtinge is uitgestel. Coetzer het klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en diefstal aanhangig gemaak.

Monday, September 24, 2012

’n Held tot die einde

Corrie Sanders is geskiet terwyl hy sy tienerdogter in ’n restaurant teen rowers wou beskerm. Die boksheld is vroeg gisteroggend in die Kalafong-hospitaal buite Pretoria dood. Sanders (46), voormalige swaargewig-bokskampioen van die wêreld, het eergisteraand in die restaurant buite Brits bo-oor sy 15-jarige dogter, Mari­nique, gaan lê. Hy het vir haar gefluister: “Maak of jy dood is, my kind.” Kort daarna het een van die drie rowers Sanders in die maag geskiet. “Corrie was ’n held vir die wêreld en hy is as ’n held dood, want hy het my kind se lewe gered,” het Sunette Sanders (47), sy voormalige vrou, gesê. Sy was by toe hy geskiet is. “In die ambulans het Corrie die hele tyd vir my gesê ek moet die kinders huis toe vat, want hy wil nie hê hulle moet hom só sien nie.” Sanders was eergisteraand saam met haar, hul dogter en hul 11-jarige seun, Dean, by die Thatch Haven Country Lodge-restaurant om die 21ste verjaardag van sy broer, Mike, se seun Michael te vier. Dean verjaar Vrydag. 48 lede van die Sanders-familie en die familie van Michael se vriendin was in ’n boma byeen, het Mike gister gesê. “Ons het omstreeks 19:00 klaar gebraai en was reg om te begin eet. “Corrie, Marinique en my middelste seun, Morné (19), het opgestaan om te gaan inskep. Hulle het verby die ingang van die boma gestap en die volgende oomblik het vier of vyf skote geklap. “Drie gewapende mans het ingestorm en geskreeu ons moet plat lê en ons selfone en beursies uithaal,” het Mike gesê. Morné het onder die kostafels ingespring en Corrie het platgeval en bo-oor Marinique gaan lê. “Die rowers het selfone, beursies en goed gegryp en heeltyd wild in die lug en die grond geskiet dat die klippe spat. “Hulle het seker 30 skote geskiet; dit was soos ’n oorlog. Ek kon nie glo wat gebeur nie.” ’n Motoralarm het afgegaan wat die rowers laat skrik het. Hulle het gevlug. “Dit het skielik net stil geraak. Eers toe Corrie bly lê, het ons besef hy is geskiet. Een van die koeëls het dwarsdeur sy regterarm gegaan en hom in die maag getref.” Paramedici het Sanders vir ’n noodoperasie na die Kala­fong-hospitaal geneem. Hy het gisteroggend omstreeks 04:00 aan sy wonde beswyk. Sanders was betrokke by die organisasie Shout SA, wat hom vir ’n veiliger Suid-Afrika beywer. Die sanger Danny K, medestigter van Shout SA, het gesê Sanders het onlangs weer aan ’n gholfdag deelgeneem waar geld vir ’n township-biblioteek ingesamel is. Mike het gistermiddag gesê sy broer was ’n “groot man met ’n baie klein hart”. “Min mense het dit besef. Hy sou nooit iemand buite die kryt leed aangedoen het nie. Hy was verskriklik lief vir sy kinders. Hy was my enigste broer en ek gaan hom geweldig mis.” Sunette het gesê Sanders was haar kinders se held. “Dis vir hulle baie swaar. Marinique het gesê haar pa gaan nou nie haar matriek­afskeidrok sien nie en Dean wil so graag môre vir sy pa deelneem aan die proewe van die Northern Titans se o.12-krieketspan, maar ek weet nie of hy sal kan nie.” Sanders het in 2003 die Wêreldboksorganisasie se wêreldkampioen geword toe hy Wladimir Klitscko van die Oekraïne met ’n tegniese uitklophou verslaan het. Hy was sowat ’n jaar lank kampioen.

Atleet geskiet

Die voormalige hekkieskampioen Karen Wilkinson (nou Harmse) is Vrydagaand in die skouer geskiet en erg aangerand tydens ’n plaasaanval naby Rustenburg. Harmse was in die 1990’s die Suid-Afrikaanse en Afrika-rekordhouer in die 100 m-hekkies en het aan die Olimpiese Spele in Atlanta deelgeneem. “Alles het so vinnig gebeur, jy dink nie,” het sy gister vertel nadat sy uit ’n Rustenburgse hospitaal ontslaan is. “Ek sien dit oor en oor in my gedagtes gebeur.” Harmse is die tweede Suid-Afrikaanse sportlegende wat die afgelope naweek ’n slagoffer van misdaad geword het. Die voormalige bokskampioen Corrie Sanders is dood nadat hy Saterdagaand tydens ’n gewapende rooftog naby Brits geskiet is. Nols de Wet, Harmse se lewensmaat, het gister vertel hulle het ’n aanval op hul plaas, Rietfontein, gevrees nadat die gesin se honde verlede Woensdag vergiftig is. Die honde kon gered word. Een, Lilo, het boonop ’n kopskoot tydens Vrydagaand se aanval oorleef. ’n Gewapende man het omstreeks 20:00 op Harmse (46) afgestorm toe sy uit haar motor by die plaashuis klim. Hy het op haar geskiet en onder meer vir haar selfoon gevra. “Ek het die selfoon in die bosse gegooi om hom uit die huis te hou. Hy het my met die geweer oor die kop geslaan. Toe hy my in die huis laat platlê, voel ek my skouer wil nie beweeg nie. Eers toe ek die koeëlgat voel en die bloed sien, het ek besef ek is geskiet.” De Wet was in die huis toe Harmse buite oorval is. “Ek het skote gehoor en hoe sy gil.” ’n Skoot wat deur een rower – daar was vermoedelik vyf – afgevuur is, het terselfdertyd deur die skuifdeur gebars en Lilo in die bek getref. Die rowers het De Wet, Harmse se pa, Kenny Wilkinson, en haar twee tienerkinders, Sheldon (15) en Amber (13), op die vloer laat lê. “Toe kom nog ’n rower met sy geweer teen Karen se kop in. Sy het erg gebloei,” het De Wet vertel. Terwyl die gesin aangehou is, het die ander rowers rekenaars, beursies en selfone gesteel. Hulle is weg met Harmse se Toyota Fortuner en De Wet se Toyota Hilux-bakkie. “Alles was binne 15 minute verby,” het De Wet gesê. Volgens hom teister vermoedelik dieselfde groep rowers boere in die omgewing die laaste paar weke al. Daar was onder meer inbrake en nog ’n gewapende rooftog. Dieselfde voetspore is telkens gevind. Harmse moes steke in haar gesig en kop kry. Die koeël is regdeur haar skouer. Been, ligamente en spiere is beseer. Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof en huisbraak. Niemand is nog gearresteer nie.

Thursday, September 20, 2012

Chris Barnard vasgebind en aangehou

Buks Viljoen Die skrywer en akteur Chris Barnard (73) is gisteraand deur inbrekers in sy huis buite Nelspruit oorval en vasgebind. Hy het net ligte beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici behandel. Hy het geweier om hospitaal toe te gaan. Sy vrou, Katinka Heyns, was nie tuis tydens die voorval nie. Die aanvallers het Barnard se Isuzu-bakkie gesteel. Hy is baie getraumatiseerd oor die voorval en wil nie persoonlik met die media daaroor praat nie, het Sandra Jacobs, bemakringsdirekteur van die Innibos Nasionale Kunstefees in Nelspruit, Donderdagoggend gesê.