Die veiligheidskonferensie oor misdaad wat Agri SA vroeër die week aangebied het, dreig nou om te ontaard in ‘n woordetwis tussen dié landbou-unie en regeringsministers oor watter minister daar moes wees en wie toe nie opgedaag het nie.
Dit is egter nie waaroor dit gaan nie. Hierdie twis mag nie die aandag aftrek van misdaad op die platteland wat die boere raak nie.
Die eerste veiligheidsberaad in landbou het reeds onder Nelson Mandela se inisiatief plaasgevind toe hy nog staatshoof was. Dit het gelei tot die aanvaarding van ‘n tienpunt-veiligheidsplan vir landbou in 1998. En dit was min of meer die laaste mate van vordering wat daar was om boere veiliger op hulle plase te hou. Sedertdien het die veiligheidstoestand op plase net vêrder versleg.
Die ANC-minister van polisie, Nathi Mtetwa, het wel die beraad bygewoon. Maar hy het nie gesê wat boere werklik wou hoor nie, en in daardie lig word die opmerking van Agri SA se veiligheidsvoorsitter, naamlik dat Mtetwa se teenwoordigheid toon dat hy ernstig is oor sy portefeulje, as ietwat opportunisties gesien. Uit Mtetwa se stellings het dit duidelik geblyk dat hy die misdaad op boere probeer afspeel en minder ernstig probeer maak as wat dit regtig is.
So het hy byvoorbeeld gesê dat daar tussen 1997 en 2007 ongeveer een duisend drie honderd moorde op plase plaasgevind het, en volgens hom was die meerderheid van hierdie moorde, op plaaswerkers en nie op boere nie. Ons betwyfel hierdie stelling van hom ernstig, in die lig van syfers wat voorheen al deur TLU SA vrygestel is, en hulle syfers word ondersteun deur ‘n databasis van name en adresse van boere wat vermoor is. Mtetwa probeer dus weer ‘n saak uitmaak van die arme plaaswerkers, en dit is, in die lig van regeringsuitsprake van die verlede, nog net verbasend dat hy nie daaraan toegevoeg het dat die boere eintlik hulle werkers vermoor nie, want dit is die soort uitsprake wat keer op keer gehoor word.
Verder het hy gewaarsku teen stellings dat moorde op boere ander motiewe het as misdaad. Verskeie landbou leiers het al die stelling gemaak dat daar ander motiewe agter die moorde op veral boere sit. Hoe verduidelik ‘n mens die feit dat moordenaars wat ure tyd gehad het om te steel wat hulle kon, eenvoudig ure lank in ‘n plaashuis sit en wag dat ‘n boer Sondag van die kerk af terugkom, hom en sy gesin martel tot die dood toe, en dan met feitlik niks van die plaas af vertrek? Dit is nie gewone misdaad nie. Ook hier het TLU SA al by herhaling verklaar dat dit deel is van ‘n etniese volksmoord-proses, en die ANC-regering het nog niks gedoen om daardie stelling as onwaar te bewys nie.
Skaars enkele dae later kom die nasionale polisiekommissaris vorendag met die stelling dat misdaad in Suid-Afrika nie die ergste in die wêreld is nie. Moet ons daaruit aflei dat ons dankbaar moet wees dat daar “net” 52 moorde per dag plaasvind, en nie 55 nie? Moet ons bly wees dat “net” twee duisend boere sedert 1994 vermoor is, en nie 3 000 nie? Moet boere bly wees as “net” die helfte van hulle veekudde gesteel word, en nie driekwart nie?
Die waarde van die landbouveiligheidsberaad lê daarin dat boere weer eens moet besef dat die regering nie ernstig is oor die belang van die boere nie, en die misdaad waaraan boere onderwerp word, word minder gemaak as wat dit regtig is. Ons kan helaas nie aanvaar dat die minister van polisie ernstig is oor sy portefeulje nie, as hy nie sy kommissaris tot orde roep oor sy roekelose stellings nie, en as hy nie eens wil probeer uitvind wat werklik agter plaasaanvalle sit nie.
Na die veiligheidsberaad is boere steeds op hulleself aangewese vir hulle veiligheid. Veral hierdie jaar, kan dit nuttig wees om daardie strukture op te knap, want plattelandse polisiestasies gaan leeggetrek word van mannekrag om die wêreldbeker sokkertoernooi te beveilig, en misdadigers weet dit ook en gaan uitwyk na die platteland. Boere, wees paraat. Die moeilikheid is nie verby nie. Die grootste deel daarvan kom nog!
Bron: Radio Pretoria se nuuskommentaar 10 maart 2010.
No comments:
Post a Comment