Wednesday, July 28, 2010

Boer tweede keer in huis oorval

Jana van der Merwe



BETHLEHEM.– Hy het in sy eie bloed gelê en voorgegee hy is dood. Nadat sy aanvallers weg is, het hy die 150 m na sy plaaswerkers se wonings gestrompel om hulp te soek.

Só vertel mnr. Gert Lange (67) van die plaas Vaalbank naby Bethlehem wat eergisteraand die tweede keer vanjaar in sy plaashuis aangeval is.

Lange, wat dié huis huur en ook op sy eie plaas by Kransfontein met beeste boer, oorweeg dit nou om als te verkoop en pad te gee.

“Die dokters sê vir my hulle kan nie verstaan dat ek nie geskok is nie. Dié keer was daar niks in die huis om te steel nie. In Januarie het hulle al my gewere en geld gevat. Als wat ek gehad het, is reeds gesteel,” het Lange gister byna emosieloos in die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem gesê.

“Ek het laataand by die verwarmer gesit en televisie kyk toe ek iets in die kamer hoor. Ek hoor nie meer so goed nie. Ek dog dit is die hond.

“Toe ek die deur oopmaak, het drie mans met klapmusse my oorrompel en vasgebind. Hulle wou geld hê,” sê hy.

Lange het gesê al sy geld en gewere is reeds gesteel.

Die mans het hom in sy gesig en bors met ’n mes gesteek.

Hy is ook herhaaldelik in sy ribbes, gesig en teen sy kop geskop.

Die wond in sy bors was gelukkig nie diep genoeg om sy hart te deurdring nie.

“Ek was nie bang of geskok soos die eerste keer nie. Ek het niks meer oor nie.”

Lange het daarna gemaak asof hy dood is.

Die mans het weer verby geloop om te kyk of hy lewe.

“Dit het gelyk asof ’n skaap geslag is. Ek het baie stil gelê,” sê hy.

Die mans het met sy eenton- vragmotor gevlug, maar die voertuig het op pad na Lindley sonder brandstof gaan staan.

Die polisie het gister die voertuig aan hom terugbesorg.

Hy sê een van sy werkers het die polisie gebel, wat baie vinnig gereageer en ’n ambulans ontbied het.

“Ek weet ek was gelukkig. Die tweede aanval was eintlik baie gevaarliker. Hulle wil al die boere doodmaak. Hoe wreder dit is, hoe lekkerder kry hulle. Ek oorweeg dit nou om te trek. Dit raak nou net te rof hier,” sê hy.

Lange oorweeg dit nou om na sy kinders op Upington te trek.

Hy sê hy vermoed die gemeenskap praat onder mekaar dat die boere geld in hul huise het. Hy het voor die vorige aanval beeste vir duisende rande verkoop. Hy glo die inligting lek uit en dan kom die mense vir die geld.

“Mens moenie geld in jou huis hou nie,” sê hy.

Sers. Mmako Mophiring, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die saak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment