Thursday, July 22, 2010

Boervrou, werker keelaf gesny ná set met brand

Bongani Hans
Drie mense is gisteraand vermoor in ’n klaarblyklik goed beplande plaasaanval in Mooirivier in KwaZulu-Natal.

Die aanvallers het ’n 58-jarige boervrou en ’n 65-jarige werker keelaf gesny. Die derde slagoffer, ’n 34-jarige huishulp, is verskeie kere in die kombuis geskiet.

Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê die aanvallers het omstreeks 20:00 ’n brand op die plaas Sherwood gestig. Hulle het gewag dat die boer die huis verlaat – en toe toegeslaan.

“Die boer het uitgegaan om die brand te gaan blus, terwyl sy vrou ’n werker gaan roep het om te help. Op pad na die brand is die vrou en die werker deur twee mans gekonfronteer.”

Mnr. Fritz Erasmus, ’n paramedikus, het gesê die boervrou se lyk is in ’n motorhuis gevind en dié van die werker buite die kombuisdeur. Albei het steekwonde gehad en is keelaf gesny.

Die huishulp se lyk is in die kombuis gevind.

Naicker het gesê die motief vir die aanval is onbekend. Die moordenaars het te voet gevlug sonder om iets te buit.

Die polisie se honde-eenheid was teen druktyd steeds besig om na hulle te soek.

’n Groep boere het 15 paaie in die omgewing afgesper om die moordenaars te probeer vastrek.

Mnr. Koos Marais, veiligheidshoof van die KwaZulu-Natalse Landbouvereniging, het sy skok oor die moorde uitgespreek.

“Ons doen ’n beroep op die regering om die sinnelose moorde op ons land se voedselprodusente stop te sit.”

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Boervrou-werker-keelaf-gesny-na-set-met-brand-20100722

No comments:

Post a Comment