Tuesday, July 20, 2010

Moord op Egpaar

Die Vryheidsfront Plus in KwaZulu-Natal is geskok oor die uiters wreedaardige moord op twee bejaarde inwoners van Hibberdene aan die Suidkus van KwaZulu-Natal, wat op Donderdag 15 Julie 2010 in hulle woning oorval is en op barbaarse wyse met pangas en vuurwapens vermoor is.

Hierdie gewelddadige moord op twee weerlose inwoners het hulle woning en selfs buite die woning in chaos met bloedbevlekte tonele gelaat.

Na die moord is die slagoffers se lyke in die bagasiebak van hulle motor gelaai en daarmee rondgery.

Die motor is in die Umzumbe-woongebied omgegooi gevind. Hier het die SAPD ook afgekom op die vermoorde egpaar se lyke en hulle teruggespoor na hul woning.

Die Vryheidsfront Plus spreek sy skok en afkeuring uit oor hierdie wrede moord en doen ‘n beroep op die Minister van Polisie om alles in die stryd te werp om hierdie barbaarse moordenaars op te spoor en aan die man te bring. Die VF Plus versoek verder die Kommissaris van Polisie om behoorlike en doeltreffende aksie patrollies in woongebiede te ontplooi om sodoende misdaad te voorkom en te bekamp, aangesien hierdie moord vooraf gegaan is deur twee motorkapings op slagoffers in hierdie gebied gedurende die week waarvoor niemand nog gearresteer is nie.

Na die Wêreldbekersokker is alle polisielede wat daar ontplooi was vir diens, terug by hulle standplase en kan hulle doeltreffend vir bogemelde dienste aangewend word.

Die VF Plus dring daarop aan dat die Minister van Polisie nou daadwerklik sal optree om misdaad in ons land te bekamp en duidelike opdragte sal uitreik aan die Polisie op grondvlak om hulle pligte behoorlik uit te voer.

Omdat die familielede van die oorledenes nog nie opgespoor is nie, kan hulle besonderhede nog nie bekendgemaak word nie.

No comments:

Post a Comment