Sunday, June 12, 2011

Vrou keelaf gesny

Jacques Steenkamp
’n Vrou se keel is met ’n mes afgesny en haar man is met ’n byl doodgekap in hul huis op hul hoewe buite Vereeniging.

Die verminkte lyke van mnr. Jan Malan (64), ’n oudpolisieman, en sy vrou, Susan (60), wat langer as 20 jaar ’n klerk by die Vereeniging-kinderhof was, is gister omstreeks 09:30 deur ’n werknemer in hul huis op die Mooilande-hoewe gevind.

Hulle is die vorige dag vermoor.

Mnr. Malan is verlede Maandag by die polisie weggewys toe hy die vergiftiging van hul honde en ’n doodsdreigement teen hom en sy vrou wou aanmeld.

Die egpaar is met ’n mes en ’n byl vermoor.

Mev. Malan se keel is afgesny en haar man in die linkersy met ’n mes gesteek en het kapwonde aan die kop gehad, volgens ’n bron op die toneel.

Volgens hul oudste dogter, mev. Minetta McLachlan (39), het een van haar ouers se bure haar gister gebel met die nuus.

“My ouers se huiswerker wou die wasgoed in die huis gaan haal. Sy het op my ma se lyk in die gang en my pa se lyk tussen die sit- en eetkamer afgekom.”

McLachlan het dadelik haar suster, mev. Maryke Mortagua (33), gebel en albei het met hul gesinne na hul ouerhuis gejaag.

McLachlan se man, Ian (43), is in die huis in terwyl sy buite gewag het.

“Ian het gesê die huis was baie donker. ’n Serp het my ma se gesig toegemaak en hy kon kopwonde op my pa se gesig sien. Daar was glo nie baie bloed nie,” het McLachlan gesê.

McLachlan het gesê een van die werknemers op die hoewe het hulle verlede Maandag gebel met die nuus dat nog twee van die egpaar se honde dood is.

Mnr. Malan het vroeër die oggend op Zack, ’n Yorkshire-terriër, afgekom, wat vergiftig is.

“Twee van my vriende in die Vanderbijlpark-polisie het my pa na die kleinhoewe vergesel waar hulle talle bene met gif op gevind het.

“Iemand het vir die huiswerker by die kerk gesê my ouers is volgende en ons het nie geweet wat om daarvan te maak nie.

“My pa het toe probeer om ’n saak by die Groendenne-satelliet-polisiekantoor oop te maak, maar hy is weggewys omdat daar jurisdiksieprobleme is met waar hy woon.”

Die familie het ’n veiligheidswag gehuur om die hoewe in die aande op te pas. Hy was tot Donderdag daar, maar is laat gaan nadat laser­alarms op die erf geïnstalleer is.

“Ons het aangeneem iemand sal in die aand iets probeer en nie in die dag nie.

Ek en my ma het Vrydagaand oor die telefoon gepraat en sy het gesê hulle wil Saterdag inkopies doen,” het McLachlan gesê.

Die aanvallers het ’n venster gebreek om in die huis te kom waar hulle die Malans ingewag het.

Die egpaar het in hul blou Toyota Corolla stilgehou en die inkopies in die huis ingedra toe hulle oorval is.

“My pa se beursie is nog saam met die kruideniersware op die kombuiskas.

My ma gaan bêre gewoonlik eerste haar handsak in die kamer en dit is langs haar lyk in die gang gevind,” het McLachlan gesê.

Volgens die familie lyk dit nie of enigiets gesteel is nie, maar ’n polisielid op die toneel het bevestig die slaapkamers is “omgekeer”.

Die egpaar se vuurwapens was nog in die kluis toegesluit en die motor is nie gesteel nie.

Konst. Teboho Lephoto, polisiewoordvoerder, het gesê hulle sal ondersoek instel oor waarom mnr. Malan weggewys is toe hy ’n saak aanhangig wou maak.

Die polisie het gisteraand twee jongmans van die omgewing ondervra.

Hulle was teen druktyd op pad na Deneysville op soek na nog twee mans.

No comments:

Post a Comment