Sunday, June 12, 2011

Vrou (72) ontsnap, skiet inbreker dood

Riaan Marais
Nadat sy om 03:00 in haar huis oorval en vasgebind is, kon ’n 72-jarige vrou van dié kusdorp haarself loswikkel, haar pistool kry en ’n inbreker doodskiet.

Volgens ao. Marianette Olivier, polisiewoordvoerder, het twee mans gister deur ’n venster in die vrou se huis geklim en haar met ’n mes en ’n skroewedraaier gedreig. Haar identiteit word op haar versoek deur die polisie weerhou.

“Nadat hulle haar hande vasgebind en haar geblinddoek het, het hulle haar bankkaarte en PIN-kode geëis,” het Olivier gesê. Een van die inbrekers het met haar motor na ’n kitsbank gery terwyl sy makker die huis deursoek het.

“Dit het die vrou die geleentheid gegee om haar hande los te wikkel en haar .38-pistool te gaan haal. Die een verdagte in die huis het haar met die vuurwapen gesien en toe op haar afgestorm. Sy het ’n skoot afgevuur. Hy is op die toneel dood,” het Olivier gesê.

Kort hierna het die tweede inbreker teruggekeer van die kitsbank, sy makker sien lê en op die vlug geslaan.

“Hierdie is St. Francisbaai. Hier gebeur nie sulke goed nie,” het ’n geskokte buurman gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

No comments:

Post a Comment