Thursday, July 19, 2012

Soek werk, val toe met mes aan

Gerhard Pretorius "Ek kan net dink wat die dagmoeder van Delmas in haar laaste oomblikke beleef het,” het ’n 70-jarige vrou van Pretoria wat met ’n stof­suierkoord om die nek met die dood gedreig is, gister gesê. Die aanvaller het Zia Erasmus boonop eergister met ’n mes teen haar keel aangehou en gesê: “Today I will f***ing kill you, you white bitch.” Hy het weggehardloop toe Zia se man, Des (81), die noodknoppie gedruk het. Danksy die oplettendheid van mense in die omgewing en ’n flink veiligheidsbeampte is die aanvaller kort daarna aangekeer. Zia het aan Beeld vertel sy het haar tuin gaan natspuit toe ’n welgeklede man haar vra of sy vir hom werk het. Toe sy nee sê, het hy gevra of hy water kan kry en by die sproeier water gedrink. Sy het omgedraai en in haar huis ingestap. Die volgende oomblik het sy ’n slag op haar rug gevoel. Die rower het haar platgeduik en haar pêrels van haar nek probeer afruk. Toe hy haar ring sien, het hy ’n mes uitgehaal en haar daarmee gedreig. Des het gehoor wat aangaan en uit die slaapkamer gekom. Hy het vertel die man het na hom gehardloop. Des het die deur in die gang probeer toemaak, maar die rower het dit oopgedwing. Daarna het die rower hom met die mes probeer steek en gegil: “Vandag maak ek jou dood.” Toe die rower mis steek, kon Des homself in die kamer toesluit. Zia het vertel sy het na die deur gestrompel om die noodknoppie te druk. Sentimeters van die knoppie af het die rower haar gegryp en teen ’n stofsuier gegooi. “Hy het my op die grond vasgepen en die stofsuier se koord dubbel gevou en dit om my nek gebind, my in die oë gekyk en weer gesê: ‘I will f***ing kill you, you white bitch.’” Haar man kon intussen ’n noodknoppie druk. Die aanvaller het toe opgespring en weggehardloop. Frans Esterhuyse, voorsitter van die Lyttelton-sektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê Martin Siebert, bestuurder van Monitor Net-veiligheidsmaatskappy se taktiese eenheid, het die gebied gepatrolleer en op die voorval afgekom. Danksy inligting van bure en werkers in die omgewing kon Siebert op die verdagte se spoor kom. “Die verdagte het R21 toe gehardloop en ’n trok het by hom gestop en hom ’n rygeleentheid gebied,” het Esterhuyse gesê. “Siebert het die trok voorgekeer en die verdagte gearresteer. “Die slagoffers het die verdagte uitgeken en hy het uitgewys waar hy die mes op die R21 weggegooi het.” Die egpaar het hul dank uitgespreek teenoor die polisie, die GPF, die gemeenskap en Monitor Net, wat gehelp het om hul lewe te red. **Margrietha de Goede (66), ’n dagmoeder van Delmas, en die vyf maande oue Wiehan Botes, na wie sy omgesien het, is twee maande gelede in haar huis vermoor.

No comments:

Post a Comment