Monday, August 27, 2012

Vrou in koma ná klip haar tref

Maryke Swart Clocolan. – ’n Afgetrede vrou (67) van ’n plaas in die distrik was gister teen druktyd steeds in ’n koma nadat oproermakers haar in haar bakkie met ’n klip in die gesig gegooi het. Isabel Hugo (67) en haar dogter, Elsabe (27), was gister vroegoggend van die plaas Daisy af op pad dorp toe, toe hul bakkie buite die dorp deur oproermakers omsingel is. Die oproeriges het Hugo deur die oop motorruit met ’n klip teen die kop gegooi. Sy het haar bewussyn verloor en die bakkie is van die pad af en in die veld in. Sy is per ambulans na Bethlehem vervoer en gistermiddag met ’n helikopter na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gebring. Mondli Mvambi, hospitaalwoordvoerder, het gesê sy het ernstige kopbeserings en is in ’n koma. Jannie Hugo het gesê sy vrou en dogter was op pad om die bakkie te laat herstel sodat hulle na Brandfort kon ry. Elsabe, wat met varke boer, wou na huurgrond op Brandfort gaan kyk. Oproermakers het gister weer die paaie na Marquard en Excelsior met klippe en doringdraad versper en verbygaande motors onder klippe gesteek. Die onrus woed van verlede week af toe die Setsoto-munisipaliteit ’n klag van betreding by die polisie ingedien het teen mense wat plakkershuise op munisipale landbougrond begin oprig het. Die munisipaliteit verhuur dié grond aan ’n boer van Marquard, Wessel Wessels. Betogers het gister na die landdroshof opgeruk om hul steun te wys aan 82 oproermakers wat verlede week hier weens openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem is. Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog gearresteer weens die klipgooiery waarin Hugo beseer is nie.

G’n klank uit keel toe hy hulp soek

Brett Horner Durban. – Hy wou om hulp roep, maar een van die rowers se koeëls het hom in die nek getref en geen klank het uitgekom nie. As dit nie was vir die vasberade geaardheid van Davey du Plessis (24), ’n avonturier van Umhlanga nie, sou hy dalk in sy opvoubare kajak op die Ucayalirivier in Peru, een van die Amasone se grootste vertakkings, gesterf het. Du Plessis was Saterdagmiddag alleen in die kajak in die Suid-Amerikaanse oerwoud toe die rowers toegeslaan het. Hy het probeer om die eerste bevestigde en selfgedokumenteerde solovaart van die hele 6 500 km van die Amasonerivier te onderneem. Hy sou dit volg van die oorsprong in Andes tot waar dit in Brasilië in die Atlantiese Oseaan uitmond. Die tog het op 1 Julie begin en sou na verwagting tot Desember geduur het. Die doel was om aandag op die beskerming van die natuur te vestig. Hy is Saterdag omstreeks 11:00 (Suid-Afrikaanse tyd) aangeval. Du Plessis het redelik na aan die wal gehou omdat die kajak nie waffers was nie. Dít het ’n geleentheid vir sy aanvallers geskep. Hy is verskeie kere sonder waarskuwing geskiet. Du Plessis het van sy aanvallers gevlug, al sy krag bymekaargeskraap en 5 km ver deur die woud gesukkel met wonde aan sy kop, nek, rug, buik en arms. Robyn Wolff, sy ma wat in Umhlanga woon, het gister gesê haar seun gooi nie maklik die handdoek in nie. “Jy verstaan nie dié kind nie. Hy is nie normaal nie. Hy het die hart van ’n leeu,” het sy gesê. Wolff het gesê die rowers het Du Plessis gestroop van bykans R100 000 se toerusting, waaronder ’n satellietfoon. Du Plessis het uiteindelik op ’n dorpie aan die ander kant van die rivier afgekom en wou om hulp roep, maar weens sy nekwond het geen klank uitgekom nie. Toe inwoners hom uiteindelik teëgekom het, het hulle eers sowat ’n uur lank op geld aangedring. Hy het eers hulp gekry toe hy bloed begin opbring het. Hy is in komberse toegedraai en per boot na Pucallpa, sowat vier uur weg, geneem, het Wolff gesê. Sy het eers 16:00 eergister van haar seun se ontberings te hore gekom toe ’n man, wat hom as Darwin geïdentifiseer het, haar gekontak het. Sy het gesukkel om hom te verstaan. Sowat ’n uur later het Du Plessis haar danksy ’n dokter se telefoon in die hande gekry. Sy het met behulp van sy mediese versekeringsmaatskappy ’n vlug na ’n hospitaal in Lima, Peru, gereël. Daar sal op hom geopereer word sodra hy sterker is. Amptenare van die departement van openbare betrekkinge het gisteraand probeer om die voorval te bevestig.

Thursday, August 23, 2012

Teen kills intruder and saves dad's life

Cape Town - A guesthouse owner's son is the hero of the day after killing an intruder who was shooting at his father, it was reported on Thursday. "I knew it was either him or us who would die," said Liam Kleyn, 16, from a hospital in Hermanus. Canzius Kleyn, 47, his wife, Betsie and their son Liam, were watching TV at their guest farm outside Caledon on Tuesday evening when a man walked in and aimed a 9mm pistol at them, Die Burger reported. Fight to the death Betsie Kleyn had her pistol with her because she felt uneasy after a call earlier in the day when someone enquired about accommodation in the guesthouse, but refused to give her his contact details. "He kept on asking whether we would be home in the evening," she said. When he saw her pistol, the intruder started shooting at her. Canzius then jumped up and tried pinning down the man. The intruder kept on fighting while Betsie fired at him. The intruder shot Canzius in the wrist and bit his ear off. During this time, Liam went to fetch another pistol from the safe and killed the intruder. "It’s scary to think of it now, but it was a fight to death." "He’s our hero," Canzius said of Liam. "He stayed calm...and saved all of our lives." The death of the unknown man is being investigated, police spokesperson Lieutenant Colonel André Traut said.

2 vas ná bejaarde egpaar se kele gesny is

Pauli van Wyk Twee huurders is gister in hegtenis geneem enkele ure nadat die kele van die bejaarde egpaar by wie hulle gewoon het, afgesny is. Marié (68) en Leon Sim (71), ’n ekonomie-onderwyser aan die Global Secondary School in Kempton Park, is vermoedelik eergisternag laat in hul huis in Cress­lawn aan die Oos-Rand vermoor. Die egpaar, wat die Anneliens-gastehuis besit en bestuur het, was ’n tyd lank met die hoofverdagte in ’n dispuut oor huurgeld en die leen van ’n kragopwekker betrokke, het hul oudste seun John gister gesê. “Gister was D-dag. Hy wou die huurgeld en die generator gehad het, anders sou my pa vandag (gister) ’n klag van diefstal by die polisie ingedien het.” Ao. Cobus Holloway, polisiewoordvoerder, het dit as ’n moontlike motief bevestig. Thembi Radebe, huiswerker, was bitterlik hartseer toe sy vertel van die bloed teen die mure en op die vloer en hoe sy op die lyke afgekom het. “Hulle was my ma en my pa. Dit is verskriklik. Ek weet nie wat sal ek nou maak nie.” Radebe het omstreeks 08:00 by die gastehuis aangekom en die motorhek en ander huisdeure oop gevind. “Dit was vreemd, want die hekke is altyd toe.” Sy en ’n ander huurder is na die woonstel agter die gastehuis waar die egpaar gebly het. Rook het uit die voordeur getrek. “Ek het geroep en niemand het geantwoord nie. Toe word ek bang en bel die polisie.” Leon is in die tuin gevind met verskeie steekwonde aan sy lyf. Volgens Holloway lei die polisie uit sleepmerke af hy is doodgesteek waarna hy om die huis gesleep is. “Marié is in hul woonstel gevind, ook met steekwonde. Die oortreders het ’n tipe swembadmiddel gebruik om haar lyk aan die brand te steek.” Polisielede het op ’n wenk reageer en ’n sektor aan die Oos-Rand gefynkam vir die verdagte, het Holloway gesê. “Terwyl ons rondgery en na hom gesoek het, het hy oorkant ons by ’n kruising in ’n enkelkajuitbakkie stilgehou. Hy was alleen in die voertuig en is net daar gearresteer. Dit was omstreeks 14:45. ’n Tweede, vroulike verdagte wat waarskynlik medepligtig is, is later ook gearresteer. Die moordwapen is nog soek.” Mariaan Otto, Marié se niggie, het die egpaar as onafskeidbaar beskryf. “Al goeie ding wat hieruit gekom het, is dat hulle saam weg is. Dis net aaklig van die klein Jack Russel, Jackie. Sy moes seker die hele aand daar by Marié gebly het, want sy het vanoggend hier uitgehardloop vol roet. “Verlede jaar is Douw Brummer, ’n neef, op sy plaas in Thabazimbi vermoor. Jackie was sy hond en het by Marié en Leon kom bly.” Douw Brummer (50) is in Oktober van agter in die kop geskiet op sy plaas, Goedgedacht, buite Dwaalboom, het Marietie Louw-Carstens destyds berig. Die egpaar laat drie kinders – John, Magda en Nicolaas – en een kleinkind agter.

Wednesday, August 15, 2012

Aanval kan VS miljoene kos

Jana van der Merwe MILJOENE dollars se beleggings in die Vrystaat is in die gedrang nadat ’n Amerikaanse plaasbestuurder in die distrik Ladybrand wreed met kapmesse aangeval is. Alan Rogers (61), ’n direkteur van die Amerikaanse boerderymaatskappy SBH Farms, was gister in ’n stabiele toestand in die Mediclinic Bloemfontein ná die aanval op hom en sy vriendin, Mandy Rynhoud. Een man, na verneem word ’n werknemer, is sedertdien deur die polisie aangekeer. ’n Gesteelde selfoon en van die gesteelde geld is ook teruggekry. Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic, sê Rogers moes gister ’n operasie vir sy gebreekte linkerboarm en ’n wond aan sy linkerhand ontvang. Rogers, wat die afgelope vier jaar as plaasbestuurder op die plaas Geluk werk, was gister steeds erg getraumatiseerd. Hy is eergisteraand per helikopter na Bloemfontein gebring. Twee aanvallers het hom in die plaashuis ingewag. Hulle het eers Rynhoud, ’n gr.R-onderwyseres op Ladybrand, oorval en vasgebind. Hoewel sy met die dood en verkragting gedreig is, het sy slegs kneusplekke opgedoen. Dr. Stephen Rogers, Rogers se broer en voorsitter van SBH, het gister namens SBH gesê dit is “nie meer moontlik vir hulle om so te werk nie”. Hy sê hul vermoëns om ’n verskil te maak, word toenemend deur misdaad oorweldig. Hy het, as verteenwoordiger vir ’n groep beleggers van Amerika en elders, gesê hulle het “’n kans gevat om in die nuwe Suid-Afrika te belê”. “Ons het op lang termyn in die toerisme- en landbou-sektor belê en het miljoene dollars se buitelandse beleggings ingebring, asook baie werk in die Oos-Vrystaat geskep. Ondanks die dringende behoefte vir ’n herlewing in die landbousektor in hierdie deel van die land, en die behoefte vir nuwe idees, vind ons dat ons eie asook die publiek se vermoëns om ons lewe en eiendom te beskerm, oorweldig word.” Hy sê diefstal kom weeklikse of selfs meer dikwels voor. “Ons lewe is in gevaar. Dit is nie moontlik om so te werk nie.” Bernard Maree, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), het gister bevestig een vermeende aanvaller is vasgetrek. Vermoedelik is of was hy ’n werker op die plaas. Die polisie was teen druktyd warm op die spoor van ’n tweede aanvaller. “As iemand in die boerdery seerkry, kry ons almal seer. Of hy nou ’n lid van VL is, is of nie. Ons moet alle aandag op dié gebeure vestig, want wie weet, môre is dit jou beurt.” - Volksblad

Monday, August 13, 2012

Twee vermoor, twee ernstig gewond in plaasaanvalle

Maryke Swart LADYBRAND. – Allen Rodgers, ’n Amerikaanse plaasbestuurder in die distrik, is gisteraand per ambulans met kapwonde en snye na die Mediclinic Bloemfontein gejaag nadat hy vroegaand op die plaas Geluk met kapmesse aangeval is. Rodgers (61) is deur drie mans aangeval en het kapwonde aan sy kop, snye aan sy hande en kneusings opgedoen. Hy is deur die aanvallers in die plaashuis ingewag nadat hulle eers sy vriendin, Mandy, oorval en vasgebind het. ’n Boer hier het gesê: “Die mans het hom met pangas aangeval en sleg gewond.” Bernard Maree, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), sê die aanvallers het glo sowat R10000 en selfone gesteel. Die polisie was teen druktyd nog op die plaas en soldate het op die grens na Lesotho na die booswigte gesoek. Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic, het teen druktyd gesê hy is in ’n stabiele toestand. Geluk is een van verskeie plase wat deur die Amerikaanse boerderymaatskappy SBH Farms besit word. Mense het gister hier bespiegel dat die aanval verband kan hou met die onlangse aflegging van werkers. ** By Hartbeesfontein, in Noordwes, is Ronél van Eyk (46) gister by haar plaashek doodgeskiet minute nadat sy haar seun Freddie (9) by die skool afgelaai het. Die rowers het haar oorval toe sy uit haar Toyota Condor klim om die plaashek oop te maak. Die rowers het Van Eyk verskeie kere geskiet, onder meer in die gesig. Hulle het met haar motor gevlug. Dit is enkele ure later verlate naby Coligny gevind. Jurie Fourie, eienaar van die buurplaas, het vertel hy was besig met ontbyt in sy dorpshuis toe sy selfoon net ná 08:00 lui. “Dit was Ronél, sy het net geroggel. Ek het teruggebel toe die selfoon afgaan. Ronél het opgetel en weer net geroggel.” Fourie en ’n vriend, Sarel van Biljon, het hulle na die plaas gehaas. Daar het hulle Van Eyk nog lewend by die plaashek aangetref. Hulle het ’n dokter, die polisie en ambulans ontbied. Van Eyk het kort voordat sy beswyk het, beduie daar was drie rowers. ** Op die plaas Armadale by Jansenville is Owen Charles (70) Sondagaand deur plaasaanvallers vermoor. Sy vrou, Janet, wie se 70ste verjaardag hulle Saterdag gevier het, is met ’n mes gesteek en met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en is in ’n ernstige toestand na die Life St. George-hospitaal in Port Elizabeth gebring. - Volksblad

Vrou vroegoggend voorgelê

Susan Cilliers Hartbeesfontein. – ’n Vrou is gister by haar plaashek naby dié Noordwesdorp doodgeskiet minute nadat sy haar seun by die skool afgelaai het. Ronél van Eyk (46) het kort voordat sy aan haar wonde beswyk het, aan die polisie beduie daar was drie rowers. Haar beserings was so ernstig dat sy nie kon praat nie en net geroggel het. Die rowers het haar omstreeks 8:00 gisteroggend oorval toe sy uit haar Toyota Condor klim om die plaashek oop te maak, kort nadat sy Freddie (9) by sy skool in die dorp afgelaai het. Die rowers het vermoedelik agter ’n geboutjie by die plaashek geskuil en Van Eyk verskeie kere geskiet, onder meer in die gesig. Hulle het met haar Toyota Condor gevlug. Dis enkele ure later verlate naby Coligny gevind. Die polisie het teen druktyd gister nog na die rowers gesoek. Jurie Fourie, eienaar van die buurplaas, het gister op die toneel vertel hy was besig om ontbyt in sy dorpshuis te eet toe sy selfoon net ná 08:00 lui. “Dit was Ronél. Sy het net geroggel. Ek het teruggebel toe die selfoon afgaan. Ronél het opgetel en weer net geroggel.” Fourie en ’n vriend, Sarel van Biljon, het hulle na die plaas gehaas. Daar het hulle Van Eyk nog lewend by die plaashek aangetref. Hulle het ’n dokter, die polisie en ambulans ontbied. Volgens Van Biljon is Van Eyk in die bors, linkerarm en kakebeen geskiet. Sy het op pad na die hospitaal gesterf. Haar man, Fred, ’n passer-en-draaier by ’n myn, was nie by die huis toe sy vrou geskiet is nie. Hul oudste seun, Nardus (21), was vir opleiding in Johannesburg. “Dis ’n groot skok,” het Nardus, ’n ingenieurstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, gistermiddag vertel. “Die een oomblik is jou ouer nog daar en die volgende oomblik nie meer nie. Dis baie hard op Freddie. Hy verstaan dit nie en mis haar klaar.” Van Eyk het die plaas bestuur en met beeste gespekuleer. Haar skoonsuster, Magriet Fouché, het vertel Van Eyk was ’n vrou wie se “ja haar ja was”. “Sy het maklik in die boeregemeenskap aangepas en was vriendelik en opgewek.” Van Eyk se bejaarde pa, Pieter Fouché, was teen druktyd gister nog van Mosselbaai in die Wes-Kaap op pad na die res van die familie. Haar ma, Rita, is reeds oorlede.