Monday, September 10, 2012

Oues ‘soos skape geslag’

Pieter Steyn Trompsburg. – Tonele van verslaenheid en hartseer het gister op die plaas Knoppe afgespeel nadat ’n boer en sy vrou wat “twee keer sou dink om ’n vlieg dood te maak . . . soos skape geslag is”. Johan (71) en Cecile Fourie (72) is eergister in hul plaashuis oorval en vermoedelik met ’n byl doodgekap. Bloed het matte, teëls, mure en deure dwarsdeur die huis bevlek. In die sit- en slaapkamer van die huis het bottels drank gestaan wat die moordenaars gedrink het terwyl die Fourie- egpaar die oggenddiens in die NG kerk op die dorp bygewoon het. Die moordenaars het vermoedelik deur ’n badkamervenster by die huis ingekom en die bejaarde egpaar ingewag terwyl hulle in die kerk was en by hul kinders op die dorp gekuier het. Die Fouries het omstreeks 15:00 teruggekeer na hul plaas sowat 10 km buite die dorp. Die egpaar se lyke is omstreeks 20:00 in hul slaapkamer gekry. “Dit is my pa, hy is doodgemaak . . . wat kan ek sê?” het ’n getraumatiseerde Louis-Chris Fourie gesê toe hy met ’n dra­sak vol van sy ouers se besittings uit die moordhuis gestap het. Phillip Henning, ’n boer in die distrik wat ’n plaasaanval oorleef het, het gesê: “Johan was ’n ou wat twee keer sou dink voordat hy ’n vlieg sou doodmaak. Hulle was wonderlike mense.” Volgens Fanie Lubbe, ’n buurman, wou die egpaar almal altyd help. So ’n moord laat ’n mens weer eens besef hoe weerloos boere is, het Lubbe gesê. “ ’n Mens raak ouer. Jy het nie meer die krag van ’n jonger man nie. Wat doen jy as hulle (aanvallers) jou inwag?” Nico Kruger, ’n ander seun van die Fouries, het gesê die wreedheid van die moord is erg. “Dis buitensporig. Dit slaan ’n ou dronk. Wat sou die motief wees?” Net ’n .22-rewolwer word vermis. Die moordenaars het die vuurwapenkluis met ’n hoeksnyer oopgesny. Fourie se ander vuurwapens en ’n mes is op die toneel gekry. Bure het onraad vermoed toe die Fouries nie hul telefoon beantwoord het of op die roep oor die Marnet-radio gereageer het nie. Die polisie volg verskeie leidrade op, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die Fouries word oorleef deur hul twee seuns, ’n dogter, Christa van Heerden, twee skoondogters, ’n skoonseun en ses kleinkinders.

Sunday, September 9, 2012

Dubbele plaasmoord skok Trompsburg-gemeenskap

Pieter Steyn TROMPSBURG. – Skok en ongeloof heers in die boeregemeenskap hier ná ’n dubbele moord gister op ’n boer en sy vrou. Johan Fourie (71) en sy vrou, Cecile (72), ’n bekende en geliefde boere-egpaar, het gister omstreeks 15:00 ná middagete by hul seun en skoondogter op die dorp na hul plaas Knoppe teruggekeer. Volksblad het betroubaar verneem die Fouries is gister kort voor 20:00 dood in hul slaapkamer in hul plaashuis gekry. Hulle het albei skietwonde gehad. Volgens ’n ingeligte, wat nie sy naam genoem wil hê nie, was die vuurwapenkluis oopgebreek. Hy sê daar was baie bloed van die sitkamer tot in hul slaapkamer. Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, sê die aanvallers het vermoedelik deur ’n badkamervenster toegang tot die plaashuis verkry. Volgens die ingeligte wil dit voorkom asof die aanvallers die egpaar ingewag het. Na verneem word, het die boere in die omgewing onraad vermoed toe die Fouries nie hul telefoon beantwoord het of op die roep op die Marnet-radio gereageer het nie. “Die boere in dieselfde omgewing roep mekaar op ’n spesifieke tyd elke aand. “Hulle doen dit om seker te maak almal is veilig.” Van die boere het ondersoek ingestel nadat geen reaksie van die Fouries gekry is nie en het op die lyke van die egpaar afgekom. Inwoners van die dorp was gisteraand baie geskok. “Hulle was baie vriendelike mense wat nie ’n vlieg sou skade berokken nie. Die hele dorp is geskok.” Nagel sê twee klagte van moord word ondersoek.

Man aangeval op N1 terwyl hy band omruil

PAARL. – ’n Jong Paarliet sê hy is dankbaar om nog te leef nadat drie mans hom Vrydagaand aangeval en twee keer raakgesteek het. Adriaan Smit (23), ’n siviele ingenieurstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Bellville-kampus en ’n Westelike Provinsie-bergfietsryer, het vertel hoe hy die betrokke aand omstreeks 22:00 deur die verdagtes langs die N1 naby Bloekombos aangeval is. Hy was op pad huis toe nadat hy by vriende in Bellville gekuier het toe hy ’n pap band gehad het. Hy het langs die pad – naby die Engen-vulstasie op die N1 – stilgehou om dit om te ruil. “Die band het net onder die brug voor die vulstasie gebars. Ek het tot by ’n veilige plek gery en afgetrek. “Ek het die spaarwiel uitgehaal, maar toe is daar skielik ’n mes teen my keel. “Hulle het gevra dat ek in die motor klim, maar ek het geweet as ek dit doen gaan ek dood,” het Smit gister by sy ­ouerhuis vertel. Smit is van agter in die nek gesteek. Hy het een van die mans se wapens – ’n panga – afgeneem. Benewens die nekwond is Smit ook in sy hand gesteek en is hy ook amper in die heup gewond. “Ek kon sien hoe die bloed op die teerpad drup en het in die middel van die pad gaan staan en gekyk hoe hulle my motor leeg steel.” Smit se klere, selfone, boeke, beursie en bergfiets van sowat R30000 is uit die voertuig gesteel. Daar was redelik baie motors op die snelweg, het hy gesê. Drie onbekende mans het stilgehou en een van die verdagtes agternagesit. Een van hulle het vir Smit gesê hy het die verdagte tydens ’n stoeiery raakgesteek. Die drie samaritane kon daarin slaag om sy peperduur fiets terug te kry. Die aanvallers het egter gevlug. Die polisie en ’n ambulans het kort daarna opgedaag. Smit is na die Mediclinic Paarl gebring en het vier steke in sy nek en een in sy arm ontvang. Hy is nie in die hospitaal opgeneem nie. Hy het die voorval Saterdagoggend by die polisie in Kraaifontein aangemeld. Ao. November Filander, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ’n saak van gewapende roof word ondersoek. - Die Burger

Suid-Afrikaanse egpaar wreed aangeval in Zimbabwe

Ogen Vos JOHANNESBURG. – ’n Suid-Af-rikaanse vragmotorbestuurder en sy vrou is in die Milpark-hospitaal in Johannesburg nadat hulle wreed aangeval is in Zimbabwe. Gerhard van der Westhuizen (58) van Nigel en sy vrou, Minnie (55), het volgens hul seun GC (25) Woensdag sowat 300km buite Bulawayo stilgehou. Toe het vier mans volgens GC “uit nêrens” gekom en die twee met jagmesse en teerpale aangeval. Albei is ernstig beseer, maar hulle kon die aanvallers afweer. “My pa is steeds in ’n geïnduseerde koma,” het GC gesê. “Ons vermoed die mans wou hulle beroof of die vragmotor kaap.” Gerhard was teen gister nog in ’n koma. Hy het onder meer ’n skedelfraktuur en bloeding op die brein. Sy regterarm is gebreek en hy het merke op sy rug waar hy oor die pad gesleep is. Minnie se toestand is bestendig. Sy is met ’n mes tot in haar regterlong gesteek. Van der Westhuizen se werkgewer, Jackson Transport, het gereël dat die egpaar per lugambulans na Milpark gebring word. - Die Burger

Kommer, toe ouers se lyke

’n Pretoriase man het op die lyke van sy vermoorde ouers in hul huis in Morning­side, Sandton, afgekom nadat ’n bekommerde vriendin hom gevra het om te gaan kyk wat aangaan. Ryno Greeff het gister aan Beeld gesê ’n goeie vriendin van sy ouers, Bets en Gawie (albei 79), het hom Vrydag gebel nadat hulle nie vir middagete by die Johannesburgse buiteklub opgedaag het nie. “Sy het gesê daar moet fout wees, want hulle is nooit so laat vir afsprake nie.” Hy het van sy huis in Pretoria na sy ouers se huis gery. Volgens Greeff was die huis toegesluit toe hy daar aankom. Hy het ’n sleutel en het ingegaan. “Ek het by die slaapkamer ingeloop en my ma se lyk op die vloer gekry. Haar hande en voete was vasgebind en haar mond was met ’n plastieksak toegebind.” Hy het toe na sy pa gaan soek en hom in sy werkwinkel by die huis gekry. “Sy hande, voete en mond was nes my ma s’n gebind. Ek dink hy het die aanvallers daarheen geneem om hulle van my ma weg te kry.” Greeff het die polisie ontbied en hulle het binne minute daar aangekom. Kapt. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, het gesê die oorsaak van hul dood en die motief is nog nie bekend nie. Klagte van moord en huisbraak word ondersoek. Die aanvallers word nog gesoek. Greeff het gesê ’n Ford-bakkie en elektroniese toerusting is gesteel en die huis is toegesluit voordat die moordenaars gevlug het. “Ek was in skok toe ek hulle gekry het. Hulle het almal regverdig en met respek behandel en sou nooit ’n vlieg skade aandoen nie. Ek is nou ’n weeskind.” Die Greeffs word ook oorleef deur Ryno se dogters, Emma (13) en Klara (10), asook sy susterskinders, Alex (25) en Robert (27). Hul ma, Elize, is in 2001 aan kanker dood. ’n Roudiens vir die egpaar word Woensdag 14:00 in die NG kerk Randburg in Ferndale gehou.

Thursday, September 6, 2012

Man met sy eie graaf vermoor

Fanie van Rooyen Die 66-jarige man wat eergisteroggend op sy hoewe by Brits deur vier rowers oorval is, het “soos ’n besetene baklei” om sy vrou te beskerm voordat hy met een van sy eie grawe doodgeslaan is. Só het Ina Hattingh (45) gister gesê oor die moord op haar broer, Mauritz Oberholzer (66), wat saam met sy vrou in hul slaapkamer by Zoutpansdrift, naby Brits, oorval is. “Mense sê altyd as iemand dood is dat die persoon ’n wonderlike mens was, maar in Mauritz se geval is dit regtig die waarheid,” het Hattingh gesê. “Hy was vir my meer soos ’n pa as ’n broer.” Oberholzer en sy vrou, Rita (62), het wakker geword toe hulle stemme gehoor het. “Daar was toe reeds twee rowers buite die slaapkamerdeur. Hulle het die voordeur se diefwering afgebreek en ’n glasdeur stukkend geslaan.” Rita het vir haar man gesê om die paniekknoppie te druk, maar dit het nie onmiddellik afgegaan nie. “Die volgende oomblik het nóg ’n rower, wat buite die slaapkamervenster in die tuin was, deur die venster op Rita geskiet. “Sy het na die badkamer gehardloop en die deur toegetrek. Mauritz het vir haar geskree hy is in die voet getref en sy moet om hulp bel.” Die badkamerdeur was op ’n skrefie oop en Rita het gesien hoe die rower wat buite was deur die venster by die slaapkamer in- val. ’n Vierde rower het daarna ook ingekom. “Hulle het soos ’n spul honde op Mauritz toegesak en hy het soos ’n besetene teen hulle baklei om Rita te beskerm, al was hy nie gewapen nie,” het Hattingh gesê. “Die vier rowers het Mauritz al stryende na die sitkamer gesleep. Dis daar waar hulle hom toe met een van sy eie grawe doodgeslaan het.” Die rowers het ’n kluis met twee gewere uit ’n muur gebreek en met die kluis en ’n selfoon weggekom. “Hulle het nie vrae gevra nie, hulle het net geskiet.” Oberholzer laat sy vrou en vier volwasse stiefkinders, Suzette, Dawie, Wallie en Hennie, agter. Die polisie het enigeen met meer inligting oor die voorval of oor waar die aanvallers is, gevra om die Brits-polisiekantoor by 012 381 6035 te bel.

‘Toe skiet hulle haar’

Louise Ferreira ’n Gr. 8-leerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp is dood en haar pa en suster gewond toe die gesin op hul hoewe in Muldersdrift aangeval is. Alyssa Botha (13) is in die maag geskiet en haar suster, Megan (17), ’n gr. 11-leerling aan dieselfde skool, is in die bene gewond. Hul pa, Anton, is in die maag geskiet. Sy een nier en ’n deel van sy lewer en dikderm moes verwyder word. Hy is in ’n bestendige toestand in die waaksaal van die Krugersdorp-hospitaal, waar sy vrou, Liesl, hom bygestaan het. Megan het in ’n handgeskrewe verklaring vertel wat gebeur het nadat sy, haar pa en suster Woensdagaand omstreeks 19:00 by die huis gekom het. “Ons was besig om ons skooltasse uit die kar te haal toe vier of vyf mense ons oorval het.” Die rowers het op mekaar geskree in ’n taal wat sy nie verstaan nie. Die rowers het hulle nie vir enigiets gevra of opdragte gegee nie. “Ek het my hande in die lug gesteek en vir hulle gesê my foon is in my sak en Alyssa het dieselfde gedoen. Hulle het ’n skoot afgevuur en my suster het geval en geskree. Ek het haar gegryp om haar te beskerm en hulle het haar geskiet. “Hulle het my omtrent 5 m van die kar gesleep en my geskiet. Hulle het my sak van my skouers afgeruk en my weer geskiet terwyl ek op die grond gelê het.” Al die aanvallers het weggehardloop behalwe een wat na Anton, wat nog in die motor was, gegaan het, het Megan geskryf. “Hy het sy een foon gevat en probeer om die tweede foon ook te vat, maar my pa het dit teruggegryp. (Die rower) het my pa toe in die maag geskiet. Iemand het gefluit en die man het gevlug. “Ek het na my suster gekruip en haar vasgehou.” Die rowers het net die selfone gevat. Liesl het vir hulp gebel en nooddienspersoneellede het Megan en Anton na die hospitaal geneem, maar Alyssa se toestand was aanvanklik te kritiek om haar te beweeg. Volgens kapt. Pinky Tsinyane, polisiewoordvoerder, is sy later by die hospitaal dood. Rinus de Jager, woordvoerder van die Hoërskool Monument, het gesê die skool het reeds gisteroggend sewe beraders gekry om die gr. 8-leerlinge en ander leerlinge wat hulp nodig het by te staan. Megan het geskryf haar suster wou graag vir die nasionale hokkiespan speel. Tsinyane het gesê die verdagtes is steeds soek. Sy het gevra dat enigiemand met inligting die polisie by 08600 10111 bel.